Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kontak Ons

Advertensie

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

3.07.2009

Kantlyn bied beter belewenis as TV

Vrypostig


Boet Matthews
NOG ’n sportmal naweek lê voor vir Namibië en niemand kan kla dat hulle nie oorgenoeg inkry hierdie wintermaande nie.

Vrypostig praat van lewendigebywoning langs sportvelde en nie die bier, biltong en breindood sitsessies voor die televisie nie.

Dit was verlede Saterdag opmerklik en hartseer hoe min Namibiërs opgeruk het na die Hage Geingob-stadion om die land se rugbyspan teen die Ivoriane in aksie te sien. Die wat nie daar was nie, weet nie wat hulle gemis het nie.

Ja, Vrypostig weet die wedstryd het gebots met die tweede toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus.

Die verskil is dat jy die Bokke se toets later tydens ’n heruitsending kon sien. Nie so met die Namibiese Welwitschias se vuurwarm vertoning nie.

As jou eie trots in Windhoek opdraf, moet jy darem wraggies jou kombers en kussing pak en gaan stelling inneem op die pawiljoen waar die Welwitschias in aksie is.

In teenstelling hiermee het duisende sokkerliefhebbers in die stadion langsaan opgedaag om Orlando Pirates en Eleven Arrows te ondersteun.

Dit was niks minder as skouspelagtig nie toe die eindfluitjie geblaas het om Cell One se nuwe trofee vir die eerste keer te oorhandig nie.

’n Klipgooi verder, was die applous vir ons skitterende rugbyspan maar bra flou in vergelyking met die bruisende geesdrif en energie in die Onafhanklikheidstadion.

Op die vooraand van nog ’n bielie van ’n sportnaweek doen Vrypostig ’n beroep op Namibiërs om op te ruk na die lekker gedekte sporttafel.

Windhoek Hoërskool is sedert gister die gasheer van ’n driedaagse sportsaamtrek waar die bestes van die land teen sewe topskole uit Suid-Afrika en een uit Zimbabwe meeding. Kookwarm rugby, hokkie, netbal en tennis is die hoofbestanddele van die sportbredie.

Môre is ook een van die jaarlikse hoogtepunte op die rugbykalender. Die twee aartsvyande United en Wanderers pak mekaar in hul jaarlikse derby, dié keer by United, wat altyd vir drama en ’n gelaaide atmosfeer sorg.

En as jy ’n boksliefhebber is, maak dan ’n draai by NamPower se konferensiesaal vir jou dosis aksiebelaaide oomblikke.

Die groot trekpleister is Namibië se “Smokey” Joe Hilongwa wat al meer begin lyk soos ’n man wat ’n wêreldtitel soek.

Daar is dus meer as genoeg rede om die naweek die televisie se afstandbeheer opsy te skuif. Pak liewer die piekniekmandjie en gaan woon van die opwindende plaaslike sportpartytjies by. Ai man, dit is tog soveel lekkerder!

Wat nie so lekker is nie, is dat Cell One se eerste uitklopreeks amper in ’n tragedie geëindig het. Ure voor die eindstryd was die beker nog in ’n warboel van misverstande gedompel. Daar is uit twee hoeke gedreig met hofsake en interdikte wat ’n donker wolk oor hierdie pragtige nuwe trofee laat hang het.

Gelukkig het al die betrokkenes mekaar gevind om met ’n tydige oplossing vorendag te kom. Vrypostig en die res van die land se media was tot op die laaste oomblik in die duisternis en hy kan nie anders as om vandag te wonder wie en hoe die toutjies so vernuftig getrek het nie.

Die belangrikste is dat die eindstryd kon voortgaan en dat die wenspan daai vet tjek van ’n halfmiljoen Namibiese dollar in sy sak kon steek wat na amper ’n dramatiese dag in plaaslike klubsokker was. Dit is daarom met groot trots en waardering dat Vrypostig en duisende sokkerliefhebbers kennis geneem het dat van die wyse manne van sokker nog die belange van die pragtige sportsoort op die hart dra.

Dankie tog daarvoor!