4.03.2010 Kampioenklub voor nuwe uitdaging in 2010
 Spelers en beamptes van Rehoboth Rugbyklub tydens een van hul oefensessies by die Reho-stadion.
DAAR is hoë verwagtinge van Rehoboth Rugbyklub wanneer die Namibiese rugbyseisoen heel moontlik in April afskop. Hulle is die verdedigende kampioen in MTC se Premierliga en besef hulle sal nóg harder moet werk om die titel te behou.
Die manne oefen die afgelope weke kliphard by die Reho-stadion en dit lyk asof hulle gerat is om vir ’n tweede agtereenvolgende keer met die gesogte titel weg wil stap. Ondersteuners van die kampioenspan is vol vertroue dat die MTC-beker weer op die dorp sal pronk, veral met ’n paar jong nuwelinge wat vanjaar aangesluit het.
“Jy weet, wanneer jy die kampioen is, wil almal deel wees van die sukses. Ons verwag strawwe teenstand van klubs soos United, Wanderers, Kudus, Reho Falcon en die onvoorspelbare Unam.
“Daar sal druk wees, want almal wil mos die kampioen onttroon. En met ’n nuwe afrigter in beheer van sake sal sommige mense twyfel of Rehoboth vanjaar weer die MTC Premierliga kan wen.
“Ons is vasberade om weer bo te eindig en ons het volkome vertroue in Dawid Abrahams, die man wat in Jood Opperman se voetspore volg. Dawid was twee jaar hulpafrigter en hy het baie geleer. Ons staan bankvas agter hom en die nuwe bestuurslede wat onlangs gekies is. Viva, Rehoboth Rugbyklub!” het ondersteuners aan Republikein gesê.
Vuurwerke word verwag wanneer die seisoen volgende maand begin en Rehoboth sal moet uithaal en wys dat hy oor die potensiaal en diepte beskik om weer koning te kraai. Die koerant het ’n oefensessie van die kampioene bygewoon en was verras om meer as 50 spelers op die oefenveld te sien.
Die manne lyk oorgehaal en almal spook om ’n plek in die uitsoek vyftiental van Dawid Abrahams.
Die afrigter het by navraag aan Republikein verduidelik: “Ons voorbereiding is op skedule en teenstanders sal moet uithaal om ons te klop. Ek sien uit na die uitdaging en my passie en liefde vir die sport kan saam met die ondersteuning van ons bestuurslede en aanhangers sorg dat ons nog ’n suksesvolle seisoen beleef.”
Die nuut gekose voorsitter, Winnie Christians, het gesê die gees en samewerking by die klub is uitstekend. Die spelers is oorgehaal om te wys dat hulle een van die heel grotes in plaaslike rugby is.”
Hy het ook gesê die klub is besig met voorbereiding vir sy Paasnaweektoernooi waar oud-Springbokke soos Braam van Straten en Louis Koen in die kleure van Rehoboth sal uitdraf. Die klub sal die Paasnaweek in die uitrusting wat deur Living Ball geborg is, speel.
Dan wil Rehoboth in April ’n langarmdans by die Hermanus van Wyk-saal hou met die legendariese Jimmy Newman en die Namakwalandse orkes Real for Real. Dit vorm alles deel van die klub se geldsinsameling vir die 2010 rugbyseisoen.
|