3.12.2008

Junior krieket sukkel teen Zim

© Wiets Coetzee
Namibië se o.19 krieketkaptein, Hendrik Marx, kolf teen Zimbabwe.
VIER Namibiese junior krieketspanne het vanaf Maandag swaar geleef in wedstryde teen besoekende skolespanne van Zimbabwe. Die wedstryde is deel van ’n hoëprestasie program wat deur Standard Bank geborg word. Die o.13, o.15, o.17 en o.19- spanne van Namibië het in hul eerste wedstryde swaar gekry teen hul eweknie van Zimbabwe.

Zimbabwe se o.13’s het Namibië met sewe paaltjies geklop. Zimbabwe het ook die o.15-wedstryd met ’n wegholtelling van 108 lopies gewen. Ook die Namibiese o.17 span moes die knie buig met agt paaltjies. Die o.19 Namibiese span het ook nie beter gevaar nie en is deur die besoekers met vyf paaltjies geklop.

Die wedstryde dien as voorbereiding vir die Namibiese spanne wat later die maand in onderskeie ouderdomstoernooie in Suid- Afrika sal meeding. Die o.11 Raadspan gaan van 8 tot 11 Desember aan ’n toernooi in Worcester deelneem. Die o.13 krieketspan gaan van 7 tot 11 Desember aan die Suid- Afrikaanse nasionale o.13-toernooi in Pretoria deelneem.

Op die o.15 krieketspan wag die PG Bison-toernooi op Oudtshoorn en George. Die o.17-span gaan van 10 tot 13 Desember in Pietermaritzburg aan die SA nasionale o.17-toernooi deelneem, en die o.19-span ding 16 tot 20 Desember in Port Elizabeth aan die Coca Cola Khaya Majola toernooi mee.