Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kontak Ons

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

3.07.2009

Jarman trofee op die spel

© Boet Matthews
By die oorhandiging van die trofee vir mêre se rugbyderby op Rehoboth staan van links Marschell Diergaardt, Chase Diergaardt, Adele Alberts (Jarman Begrafnisondernemers), George McNab en FR Cloete.

RUGBYKOORS loop hoog op Rehoboth vir môre se fees op die dorp waar laerskole, Ou Kroks en senior klubs almal in aksie gaan wees.

Die jaarlikse stryd om die Deon en Tommy Jarman-trofee tussen Rehoboth en Reho Falcon is een van die hoogtepunte in die Reho-stadion. Die derby bied goeie geleentheid vir jongmense van die dorp om meer aandag aan sportbyeenkomste te gee.

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat die kragmeting tussen die twee rugbyreuse plaasvind. Soos in die verlede word toeskouersin hul honderde by die derby verwag.

Die Valke het die afgelope twee jaar met die Jarman-trofee weggestap en is oorgehaal om vir ’n derde keer die gesogte titel omhoog te hou. Maar rugbykenners waarsku dat Rehoboth se kombinasie vanjaar baie meer gedug is.

Die spanbestuurder, Marschell Diergaardt, het by navraag aan Republikein gesê: “Ons gaan vanjaar die bordjies verhang, want ons speel kookwater rugby. Riaan Jantjies (die gewese Namibiese skrumskakel) het by ons reeds gedugte tegniese span van Jood Opperman aangesluit.

“Jantjies is die afgelope drie weke in die kamp van Rehoboth waar hy bydraes lewer sodat ons Saterdag die naelbyter kan wen en sodoende die klub se aanspraak behou om vanjaar die MTC Premierliga-eindstryd te haal.”

Rehoboth is sterk geplaas op die MTC Premierliga-punteleer en het vanjaar nog net teen die voorloper United verloor en teen hul buurman, Reho Falcon gelykop gespeel.

Die manne van Rehoboth het beloof om die krane oop te draai en te verseker dat hulle môre se herontmoeting wen en daarmee vir die heel eerste keer die Deon en Tommy Jarman wisseltrofee in hul vertoonkas kan bêre.

Die rugbyfees begin reeds om 07:30 met tjokkertjies in die o.7-, o.8- en o.11- ouderdomsgroepe wat mekaar aandurf danksy die organisering van die Laerskool Ruimte. Skole van Walvisbaai, Karibib, Elnatan en Windhoek gaan ook daar wees om hul vernuf te wys.

Die Ou Kroks van Rehoboth en Valke gaan om 12:30 soos van ouds die rugbystewels vasknoop om te wys hoe dinge gedoen word. Jood Opperman, Riaan Jantjies, Eden Meyer en verskeie ander plaaslike bekendes kan in aksie gesien word.

Die klubs se eersteliga-spanne pak mekaar om 13:30 waarna die groot oomblik om 15:00 vir toeskouers aanbreek. Vir Rehoboth bied die wedstryd ’n verdere uitdaging, want hulle speel in hul nuwe truiewat deur mnr. George McNab geborg is, terwyl die Valke in die truie van Parcel Force ’n driekuns wil behaal.

Die feesvieringe begin vanaand met die aanwysing van Mej. Rehoboth Rugbyklub by die Rooms-Katolieke-saal. Kaartjies kos N$200 elk wat ’n driegangete en die teenwoordigheid van die nuut gekose Mej. Namibië 2009, Happie Ntelamo, insluit wat ’n ekstra bonus is. Musiek sal verskaf word deur die bekende Swart Baster. By die rugbyfees is die hekgeld N$10 vir volwassenes en N$5 vir skoolgaande kinders.