
Chili se president, me. Michelle Bachelet, (links) het Saterdag van die deelnemers tydens die rusdag besoek.
NAMIBIë se Ingo Waldschmidt is stadig maar seker besig om al hoe hoër op te skuif op die puntelys van die uitmergelende Dakartydren wat in Suid-Amerika plaasvind. Hy het Vrydag se skof in die 57ste posisie geëindig nadat hy die spesiale trajek van 419km voltooi het. Hy moes nog 317km ry tot by die oornagpunt.
Sy bestendige deelname het hom op die algehele rangleer vanaf die 127ste posisie na die 87ste posisie laat opskuif. Waldschmidt, wat die eerste Namibiër ooit is wat aan die tydren deelneem, se doelwit is om die tydren se 15 skofte te voltooi. Sy KTM 690- motorfiets se werkverrigting is uitstekend en tot dusver het hy nie ernstige meganiese probleme ondervind nie.
Die werktuigkundige van “Team Rally Raid UK” wat hom bystaan, is uitstekend. Ingo skryf die logistieke span baie hoog aan. Hy het laat weet dat dit soms moeilik is om kop te hou en nie onnodige kanse te waag nie. Hy het aan sy vrou Lisa vertel dat hy tydens die vyfde skof van die tydren amper met moeder aarde kennis gemaak het.
Hy het in die stof van ‘n vierwielmotorfiets gery en besluit om die kwad verby te steek. Hy het vertel dat hy nie sy padkaart dopgehou het nie en die oomblik toe hy op volspoed die kwad verbysteek, was dit op ‘n baie gevaarlike gedeelte van die roete. Hy was gelukkig om in die motorfiets se saal te bly nadat dit gebokspring het toe hy deur diep slote in die pad gery het.
Volgens Lisa het dit hom daaraan herinner dat hy geen kanse kan waag nie en dat dit sy doel is om kalm te bly en die motorfiets te spaar sodat hy die tydren kan voltooi. Saterdag het die oorblywende deelnemers ‘n welverdiende rusdag in Valparaiso,Chili, geniet.
Chili se president, me. Michelle Bachelet, het van die deelnemers tydens die rusdag besoek. Gister het Ingo in die 56ste posisie weggespring. Dit was die agtste skof wat van Valparaiso tot La Serena strek. Die totale afstand wat teen laat gisternag afgelê sou word, is 652km waarvan 294km ‘n spesiale trajek is.