DIE 15-jarige Tuki Jacobs is een van die ontluikende Namibiese tennisspelers wat besig is om hul pad op die internasionale terrein oop te veg. Jacobs het vroeër die maand aan die Internasionale Tennisfederasie se reekstoernooi vir o.18’s in Mauritius deelgeneem.
In die enkelspel het hy tot die kwarteindronde gevorder voordat hy deur die Brit Stefan Burnett met 6-0, 4-6, 3-6 uitgeskakel is. In die dubbelspel het Tuki en sy spanmaat van Botswana, Lefa Sibanda, die halfeindstryd gehaal waar hulle vir ’n klipharde stryd gesorg het voordat die topgekeurde paar Teja (Kenia) en Alla (Indië) in drie stelle met 3-6, 7-6(5), 6-10 gewen het.
Tuki is tans Namibië se voorste o.16-speler. In sy laaste toernooi in Namibië het hy teen o.18’s meegeding en in die eindstryd verloor. Tuki het intussen ’n aanbod vir permanente plasing by die Charles Wheeler Tennisakademie in Johannesburg ontvang, waar hy tuisonderrig sal kry. Beide Tuki se 12-jarige tweelingsibbe speel ook ernstig tennis.
Die jongste suster, Sedi, is tans by die ITF-oefensentrum in Pretoria. Haar tweelingboetie Katu ding tans in die o.14-toernooireeks mee en sien uit daarna om vanaf volgende jaar aan die ITF se o.18-toernooie wêreldwyd te begin deelneem.
Al drie die Jacobs-kinders word plaaslik deur Johan Theron afgerig, wat reeds ’n groot rol in die ontwikkeling van hul fisieke en geestelike gehardheid gespeel het.