|
Republikein
|
|
|
8.03.2010 Hoë tellings in leo![]() Brian Bantam (middel) van Black Africa word platgetrek.
DIT was ‘n opwindende naweek in die leo/NSV-uitklopbekerkompetisie wat op Otjiwarongo, in Windhoek en op Walvisbaai vir groot tellings en vreugde en teleurstellings gesorg het. Die manne van Kavango United is Saterdag met ‘n kriekettelling van 12-1 deur Civics afgeslag wat sy plek in die laasten 16 verseker het. Eleven Arrows het ook maklik met 6-0 teen Omeege United die gifpyle laat insink.
Die Premierliga-span wat gesweet het om deur te dring, is SKW. Die manne het met strafskoppe (8-7) gewen nadat hulle so byna hul moses teen Tura Magic teëgekom het. Die telbord het na 90 minute op 2 doele elk gestaan en strafskoppe moes geneem word. Dit was so hittete of SKW was Vrydagaand ‘n uitsoekspan met ‘n rooi gesig op sy tuisveld. In die Kuisebmond-stadion het sokkerliefhebbers ‘n titaniese stryd tussen Black Africa en die tuisspan Blue Waters gevolg. Dit was van meet af aan ‘n tweestryd soos min met Black Africa wat uiteindelik die kusbewoners met ‘n telling van 3-1 stil gespeel het. Die wedstryd is gekenmerk deur omstrede beslissings van die skeidsregter en in ‘n stadium was daar selfs ‘n lelike vloekery. Geel en rooi kaarte het in die kragmeting geflits wat meegebring het dat twee van Blue Waters se manne die trekpas gekry het.
Die held van die humeurige wedstryd was Black Africa se kaptein en ysterman op verdedeging, Da Costa Angula, wat twee doele behaal het. Da Costa het die telbord laat saamgesels toe hy met ‘n kopstamp vir ‘n 1-0 voorsprong in die 15de minuut geslaag het. Daarna was dit ’n gespook om balbesit in die middelveld en die vlugtige Brian Bantam van Black Africa het gewys dat hy baie na aan die deur van Tom Saintfiet se Brave Warriors-kombinasie beweeg.
Bantam se selfvertroue, goeie balbeheer en vernuf om balle in oop gapings na sy spanmaats aan te gee was een van die hoogtepunte in die wedstryd. Een man wat nie kon vlamvat nie, was Marco van Wyk. Hy het twee keer ’n kans gehad om sy naam op die telbord te skryf, maar het bo-oor die dwarslat geskop met slegs Blue Waters se doelwagter voor hom. Drie minute na rustyd het Da Costa sy span se voorsprong laat rek toe ‘n hoekskop verwarring in die tuisspan se doelgebied geskep het. Blue Waters is aangespoor deur hul fanatiese ondersteuners en die langverwagte doel is deur Gottlieb Nakuta aangeteken. Net toe die mense van Blue Waters op hul tone gebring is na Nakuta se doel, het Black Africa onmiddellik geantwoord. ‘n Briljante beweging uit die middelveld met ‘n paar aangeë het die agterlyn van Blue Waters oopgevlek en gesorg dat Faroma Clarence se syskoppie sekuur was na ’n perfekte dwarsaangee deur Jerome Louis. So het Louis, die land se voorste doelskieter, ook maar ’n stil wedstryd gehad, want is hy nie veel beweegruimte deur Blue Waters se agterlyn gegee nie. In die voorwedstryd op Walvisbaai het Ali Akan se Ramblers met 6-0 bo-oor die kusdorp se Sailors United geseil. Rammies se Bernard Mbilize het drie keer die kol getref terwyl sy spanmaats Boma Hailonga, Dylan MIeze en Hans Witbooi se visiere ook sekuur ingestel was. Die verdedigende leo/NSV-kampioen, Orlando Pirates, het naelskraap met 1-0 teen Golden Bees gewen. Pirates se aanhangers is nie bekommerd oor die een doel wat hul span behaal het nie en is vol selfvertroue dat dit weer eens hulle sal wees wat aan die einde die leo-trofee omhoog sal hou. Premierliga-klubsAfrican Stars en Tigers het mekaar in die SKW-stadion gepak met Stars wat as die 2-0 wenners uit die stryd getree het. Die wedstryd moes in die tweede helfte gestaak word sodat die polisie en sekuriteitsbeamptes van die toeskouers by die hekke eers op hul plek kon sit. Try Again van Keetmanshoop het met 1-0 oor Gariseb Orlando Pirates geseëvier, terwyl Chief Santos vir Young Beauties met 2-1 getroef het. Spoilers klop vir Space Age 6-0 en Young Rangers wen met 4-2 teen Onambula United. Boet Matthews in die Kuisebmond-stadion |
|