24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

22.02.2012

Haikali na Accra vir herontmoeting


Martin Haikali
EEN van Namibië se ontluikende boksers, Martin Haikali, gaan vir die sesde keer sy Afrika liggewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) verdedig.
Hy het gister na Accra vertrek vir die finale voorbereidings op Saterdagaand se verwagte riller teen Samuel Amoako van Ghana.

Die twee was reeds in Januarie 2011 slaags en Haikali het in die einste Accra die skaal geswaai en naelskraap met punte gewen. In boks word gesê ’n wen is ’n wen – veral omdat ’n punte-oorwinning nie in enige besoeker se skoot val nie. Haikali het dit reggekry en is die WBO-Afrika liggewigkampioen.

Nou, dertien maande later, is hy terug in Accra om vir ’n tweede keer teen Amoako deur die toue te klim.
Haikali het onlangs by ’n nuuskonferensie in Windhoek gesê hy wil hierdie keer met ’n uitklophou wen.
“Dit sal my plek op die wêreldranglys aansienlik verbeter en ’n geleentheid skep om teen hoër gerekende boksers skouers te skuur.”

Die Namibiër het ook benadruk: “Gelukkig weet ek wat wag op my wanneer ek Saterdagaand deur die toue klim: ’n vuurwarm ontvangs en ’n teenstander wat voor sy tuisskare sal wil uithaal en wys. Ek is egter vasberade en is beter voorberei om hierdie een teen Amoako ook te wen.”

Haikali is fiks, hy slaan hard en is taai soos ’n ratel. Hy het die WBO-Afrikagordel in 2009 ingepalm en sedertdien nooit weer teruggekyk nie. Sy opponente het sterre gesien en Saterdag klim hy deur die toue as ’n kampioen, wat die afgelope maande baie meer ervare geword het.

Die bokspromotor Nestor Tobias het aan Republikein gesê Haikali is ’n bokser met ’n groot hart en dat hy Saterdagaand in Accra sal wys wat in daai vuiste steek.

“Amoako is self ook goed op dreef en het sewe gevegte gewen sedert sy neerlaag verlede jaar teen Haikali, maar ek is oortuig Martin is gerat vir nog groter uitdagings.”
Haikali word deur sy afrigter Tobias Nashilongo en bestuurder Malakia Elindi vergesel.