21.07.2008

Haastige Ermin onkeerbaar

© Francois Poolman
Niemand kon Saterdag by Ermin van Wyk bly in die 50 km Engen Hochland bergfietsmarathon nie.
ERMIN van Wyk was die naweek die oortuigende wenner in die eliteafdeling vir mans by die jaarlikse Engen Hochland bergfietsmarathon. Met ’n uitdagende roete wat vir die elite-ryers van 40 km na 50 km verleng is, het Van Wyk in een uur 56 minute 24 sekondes eerste oor die eindstreep gery. Jacques Celliers het verlede jaar se elite-rit oor 40 km in 1:47.38 gewen.

Christo Swartz het net soos verlede jaar die tweede plek ingepalm met ’n tyd van 2:03:44. Ananias Ananias was derde in 2:20:25. Vandat Van Wyk in 1999 begin fietsry het, het hy reeds talle prestasies behaal. In 1999 het hy ’n brons by die Afrikakampioenskap gekry. In 2003 het hy een van sy blinkste jare beleef met ’n brons in die Afrika bergfiets-kampioenskap, goud in die Namibiese nasionale marathonkampioenskap, goud in die o.16 nasionale padritkampioenskap en hy is as finalis vir die Namibiese Junior Sportman van die Jaar genomineer.

Van Wyk het in 2004 die derde plek in die Afrika junior bergfietskampioenskap, tweede plek in die Namibiese nasionale bergfietskampioenskap en 32ste plek in die junior wêreldkampioenskap gekry. In 2005 was hy die Namibiese junior padritkampioen. In 2006 was hy tweede in die marathon-kampioenskap, derde in die SA nasionale bergfietskampioenskap en het hy Namibië by die Statebondspele in Melbourne verteenwoordig.

Verlede jaar het Van Wyk ’n tweede plek in die Afrika-kampioenskap beklink. Saterdag het Patrick Reimers die junior mansafdeling met ’n tyd van 2:30:25 gewen. Die veterane-afdeling vir mans is deur Johan Truter in 2:15:20 gewen met sy naaste teenstander, Johan Fourie, vyf minute later en André de Jager in die derde plek.

In die meestersafdeling was Rolf Adrian eerste, gevolg deur Herklaas Viljoen en toe Gustav Gouws. Die grootmeester-afdeling behoort aan Chris Muir, met Justin Ellis wat tweede was. Van die deelnemers het oor die ruwe terrein gesukkel, terwyl die meer ervare fietsryers dit juis so verkies het. Die elite vroue-afdeling is deur Heletje van Staden in ’n tyd van 2:31:23 gewen.

Sy was ook die verdedigende kampioen. Van Staden domineer die Namibiese vrouewedrenne en is ook die afgelope klompie jare die junior Afrika-kampioen. Sy het opnuut haar internasionale ervaring laat tel. Die veterane vroue-afdeling is deur Monika Grossmann gewen, gevolg deur Elke Jagau en Romy Noeske. Die 25 km pretrit vir mans is deur Pierre van Rensburg gewen met Wynand Gouws tweede en Fransua Fourie derde oor die eindstreep.

Die pretrit vir vroue is deur Jowina van Staden gewen met Elanor Grassow tweede en Anrie van den Berg derde. Die kompetisie is moontlik gemaak met borgskappe van Engen Hochland, Coca- Cola, Bio-Dynamics, Medical Imaging, Nexus, Engen Hochland, Dairenkia Motors en Fred Krenz Structural Consultant.