
By gister se tjekoorhandiging staan van links Barry Rukoro, Beau Kauta en dr. Korbinian Amuntenya met die MTC/NSV-beker.
DAAR maak hulle weer so en gooi sowat N$1.2 miljoen in sokker se skoot sodat die gesogte MTC/ NSV-bekertoernooi volgende naweek op Keetmanshoop en Otjiwarongo kan afskop. Dit is die volgehoue steun van MTC Namibia wat opnuut die kans bied aan sokkerspelers by minder bekende spanne om in die kalklig te wees en in ‘n uitklopkompetisie teen die grotes die hoofopskrifte van koerante te laat skryf.
Van die meer as eenmiljoen Namibiese dollars vir die MTCbekertoernooi, sal sowat N$614 500 aan prysgeld oorhandig word, terwyl die res van die geld aan administrasie, verblyf, vervoer ensovoorts gebruik word. Die wenspan stap weg met N$350 000, die naaswenner kry N$130 00 en die ander twee semifinaliste elk N$60 000. Prysgelde van N$2 000 elk wag op die voorste doelskieter en die beste speler van die reeks.
Nog N$1 500 elk word oorhandig aan die voorste skeidsregter, assistentskeidsregter, die beste span, spanbestuurder, doelwagter en beste joernaliste in die gedrukte en elektroniese media. Dis ‘n groot klomp geld wat MTC Namibia vir die toernooi borg en hulle is oortuig dat die kompetisie nog meer sukses kan behaal. Amos Shiyuka van MTC het in sy toespraak verduidelik: “Die MTC-bekertoernooi het in oorleg met die Namibiese Sokkervereniging landwyd die mense se verbeelding aangegryp.
Dalk is die kompetisie ook vir baie spelers en beamptes die begin van ‘n nuwe avontuur. Vir baie is dit ‘n kans om te wys dat hulle op ‘n hoër vlak kan speel en die oog van die nasionale keurders vang. Kyk terug na die onlangse vertoning van die Brave Warriors en dit wys op ons plaaslike talent wat nie meer die melkkoei van spanne in Afrika is nie. Ons het ‘n kompeterende sokkernasie geword.”
Die sekretaris-generaal van die NSV, Barry Rukoro, het die hoofborg en die ander vennote in die sokkerkonsortium Namibië Brouerye en First National Bank bedank vir die jarelange ondersteuning aan plaaslike sokker. Hy het ook kollegas by die beheerliggaam van sokker wat hard agter die skerms werk bedank vir hul insette en glo dat almal saam die MTC/NSV-bekerreeks sal laat werk.
“Ons het baie geleer uit ons foute en ons doelwit is om te verbeter en vol te hou met die groei van die kompetisie.” Die visepresident van die NSV, dr. Korbinian Amuntenya, het gesê die Brave Warriors kon nie ‘n wedstryd in Ghana wen nie, maar het baie harte bly gemaak met hul vertoning. “Daar is baie talent in Namibië en die MTCbekertoernooi bied ‘n kans aan spelers om deur te breek en deel te wees van die NSV se langtermyn ontwikkelingsplan.” Die afrigter van African Stars, Gilbert Rwasoka, is oortuig dat sy span die trofee vir ‘n tweede opeenvolgende keer kan wen.
“Egipte het in Ghana gewys dat niks onmoontlik is nie en die Afrika Nasiebeker vir ‘n sesde keer gewen. Waarom kan ons by African Stars die MTC-trofee nie vir ‘n tweede jaar omhoog hou nie?” Stars open die verdediging van sy titel volgende naweek op Otjiwarongo teen Golden Bees. Die volledige program vir die naweek vir 23 Februarie op Keetmanshoop: Aranos tn Hotspurs 14:00; Ramblers tn Deportivo Alaves 16:00; Fedics tn Friends 18:00; Black Africa tn Young Beauties 20:00.
Otjiwarongo, Saterdag 23 Februarie: Julinho SPFC tn Tough Guys 10:00; Tigers tn Young XI 12:00; Oshakati City tn Pubs 14:00; Black Hawks tn Monitronic College 16:00; XI Brothers tn United Stars 18:00; Rundu Chiefs tn Mighty Gunners 20:00. Sondag 24 Februarie: Civics tn Major Power 10:00; XI Arrows tn Newcastle United 12:00; Blue Waters tn Vietnam Rangers 14:00; Orlando Pirates tn Onambula United 16:00; African Stars tn Golden Bees 18:00; SKW tn Chief Santos 20:00.