24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

1.03.2010

Griffons ontglip Welwitschia-greep

© Boet Matthews
Bradley Langenhoven druk die Welwitschias se tweede drie.

VOOR Saterdag se eerste Vodacombekerstryd is baie gebrom oor die gehalte rugby wat die gekose Welwitschia-spelers teen die Griffons in die Hage Geingob-stadion sou opdis.

Na 80 minute se spel was dit die Griffons wat horings gewys het toe hulle met 45-26 as wenspan van die veld gestap het. Vir sommige van die meer as 1 000 toeskouers was dit dalk ’n teleurstelling, terwyl ander oortuig is dat die Welwitschias beter sou vaar as hulle net ’n paar opwarmwedstryde kon hê.

Die Welwitschias se afrigter, Johan Diergaardt, glo sy span sal wel beloon word, want nou gaan nog harder gewerk word. Sy span speel komende Saterdag teen die Luiperds op Potchefstroom en die naweek daarna tuis teen Griekwas.
© Boet Matthews
Die heelagter Chrysander Botha draf pale toe vir sy drie teen die Griffons Saterdag in die Hage Geingob-stadion nadat die vleuel Llewellyn Winckler die gaping geslaan het.
“Die fiksheidvlak is nie wat dit moet wees nie, maar daaraan sal ons aandag gee. Dis duidelik dat toe die spelers moeg word, het die dissipline ook agteruitgegaan,” het Diergaardt gesê.

Dit was ’n paar hanteerfoute, wankelrige skrumwerk en die Griffons se kompeterende lynstaanwerk wat tot die Welwitschias se nederlaag gelei het. Maar alles is nie verlore nie en daar is hoop vir die komende wedstryde in die kompetisie.

Selfs die afrigter van die Noord- Vrystaters, Dersond Gorgonzola, stem saam dat hier baie potensiaal is en dat hy verras is met die spel wat die Welwitschias gelewer het.

“Toe die telling 10-10 was, het ons bekommerd geword. Kort na rustyd het die Namibiërs ons vasgepen en hulle moes eintlik die voorsprong geneem het as hulle nie kanse verbrou het nie. Met rustyd was die telling 25-17 en kon die wedstryd nog enige kant toe.

“Ons is onder hewige druk geplaas en die gaping is tot 25- 23 vernou. ’n Paar hanteerfoute deur die tuisspan het ons laat asem skep en ons kon punte met ’n paar teenaanvalle aanteken. Maar ek is beïndruk met die Welwitschias en is oortuig dat hulle ’n paar verrassings in die Vodacombeker kan lewer, veral met die amateurs in die span wat spook om hul plek na die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland oop te speel.”

Die eindtelling was nie juis ’n ware weergawe van die wedstryd nie. Die Griffons het met teenaanvalle die tuisspan onkant betrap en die haastige regtervleuel Eddie Fredericks is een van die manne wat toegelaat is om groot skade aan te rig.

Losskakel Tiaan van Wyk het met akkurate stelskoppe die telbord laat aanrol. Sy bonkige skakelmaat Enrico Schultz het met sy spoed en systappies die Namibiërs laat spoke jaag. Vir die Welwitschias het Chrysander Botha uitgeblink.

Die jong heelagter was lus vir rugby en het met ’n briljante drie die skare op hul voete gebring. TC Losper het verdoel, maar Botha het later die skopwerk oorgeneem en altesaam 19 punte aangeteken. Die ander drie van die Welwitschias is deur senter Bradley Langenhoven gedruk.

Die besoekers se drieë is aangeteken deur Eddie Fredericks (3), Enrico Shultz en Leon Grobbelaar. Die res is deur die giftige skopskoen van Tiaan van Wyk behaal. Die laaste een was ’n bielie wat vanaf die halflyn suiwer deur die pale geklits is.

• Die naweek se ander uitslae in die Vodacombeker: SWD 13 – 22 Vrystaat; Boland Kavaliers 37–28 Westelike Provinsie; Goue Leeus 27–22 Platinum Luiperds; Oostelike Provinsie 27–27 Pampas XV; Pumas 52–17 Valke; Sharks XV 69–8 Grens; Griekwas 17–22 Blou Bulle.