18.02.2010 Gimnastiek op koers vir skouspel
 Die nasionale junior seunspan wat die land by die Afrika Gimnastiekkampioenskap sal verteenwoordig, is Paul van der Merwe, JR Franks en Morihei Anderson.
DIE Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF) voer sedert 2008 ’n eensame finansiële stryd vir sy aanbieding van die Afrika Gimnastiekkampioenskap wat op 28 Februarie op Walvisbaai moet wegspring.
Die flouerige steun van die staatmasjinerie, die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, die Namibiese Sportkommissie en die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK), het gister ontvou toe die president van die NGF, me. Valereis Geldenhuys, teruggekyk het op die lang voorbereidingspaadjie om dié droom ’n werklikheid te maak.
Met ’n skrale N$40 000 jaarliks van die Sportkom missie het gimnastiekliefhebbbers ’n ongekende poging aangewend met hulp uit die private sektor sodat die grootste en beste Afrika-kampioenskap ooit met twaalf lande op die hawedorp kan plaasvind. Boonop is die geldjies wat die Sportkommissie gee, deel van verlede jaar se bydrae wat die NGF moet kry.
Mnr. Walter Haseb van die Sportkommissie het aan Republikein gesê geld word net aan sportkodes gegee vir internasionale deelname en ontwikkelingsprogramme.
“Die kommissie kry jaarliks net N$4,6 miljoen van die Regering wat tussen al die sportkodes verdeel word. Dan moet administratiewe onkoste ook in ag geneem word.”
Me. Geldenhuys het bevestig dat dit sedert 2008 maar ’n opdraande pad was en dat hierdie projek met minimale steun van regeringskant plaasgevind het. Bykans ’n miljoen Namibiese dollar, insluitend vir ’n ritmiese vloer van N$168 000, het in die proses gevloei.
Me. Geldenhuys het bevestig dat reëlings vir die reusebyeenkoms met meer as 500 gimnaste goed verloop het met die enigste oorblywende haakplek die invoer van die ritmiese vloer. Hul hoop is op Air Namibia gevestig om die vloer van meer as nege ton uit Frankfurt in Namibië te kry.
“Ons het reeds samesprekinge met Air Namibia hieroor gehad en die lugredery se verteenwoordiger in Frankfurt, mnr. Wimpy de Klerk, doen alles in sy vermoë om die vervoer moontlik te maak. Ons het ook reëlings getref om ’n gebruikte vloer uit Suid-Afrika te kry, sou ons nie daarin slaag om die splinternuwe een uit Duitsland te kry nie wat die enigste van sy soort in Suider Afrika sal wees.
“Vir nog ’n belangrike stukkie samewerking is ons op die NNOK aangewese: die verpligte opkikkertoetse op gimnaste. Dit kos sowat N$2 000 per toets en ons hoop die NNOK kom tot ons redding.”
Sy het verduidelik mense moet besef hoe groot en belangrik hierdie byeenkoms is en wat dit vir Namibië beteken. Gimnaste sal op Walvisbaai die geleentheid kry om vir die Junior Olimpiese Spele in Julie vanjaar in Singapoer te kwalifiseer.
Die Walvisbaai-kompetisie sal agt dae van strawwe mededinging bied wat soggens om sewe-uur sal begin en om 19:00 afgesluit word.
Spesiale prestige word aan die geleentheid verleen met die teenwoordigheid van die president van die Wêreld Gimnastiekfederasie, mnr. Bruno Grandi, en twaalf van die wêreld se hoogste gekwalifiseerde beoordelaars. Geldenhuys sê die hele projek kos ’n fortuin en was dit nie vir die gulhartigheid van Namibiese instellings nie, kon hierdie Afrika-skouspel nie plaasvind nie.
Sy het gesê die Protea-hotelgroep bied verblyf vir al die gimnaste aan en hanteer ook die reëlings van kosvoorsiening. “Bank Windhoek is ’n groot held in hierdie verhaal. Hulle het nie net kontant vir uitgawes gegee nie, maar ondersteun ons ook in elke ander opsig.
Ander staatmakers is Manica van Walvisbaai, Namport, Nashua, Fruit & Veg, Namibia Dairies, Namib Meulens, Lois Bastos en Hydroweld. Die Walvisbaai- munisipaliteit is ook sterre en het op eie houtjie meer as N$200 000 se apparaat aangekoop.
“Ek is uiters optimisties en baie positief dat hierdie spanpoging vir die beste Afrika-kampioenskap in die geskiedenis gaan sorg. Ons het ’n fanatiese komitee met ’n passie vir gimnastiek wat wondere verrig om alles vir die glansgeleentheid gereed te kry.”
|