18.08.2010 Gholfunie verwelkom Absa
 Gholfstokke word Saterdag en Sondag by die Windhoek Buitekluboord geswaai wanneer die geskiedkundige Absa klubkampioenskap plaasvind. Wilson Handjengo (Nagu klubvoorsitter) en James Short (Nagu hoofbestuurder) wys hoe. Voor hurk die besturende direkteur van Absa Namibië, mnr. Marius Alberts (tweede van links) en mnr. Hajo von Prittwitz (Buiteklub klubkaptein).
SPANNING, opwinding en selfs trane kan die naweek verwag word wanneer die jaarlikse klubkampioenskap by die Windhoek Buitekluboord se gholfbaan plaasvind. Oor twee dae gaan die kaf van die koring geskei word. Vanjaar se gholftoernooi oor 36 putjies vir mans en vroue word moontlik gemaak deur Absa, ’n nuwe vriend van die Namibiese Amateur Gholfunie (Nagu).
Absa maak geen geheim daarvan dat hy graag sy geld in die sportsoort belê omdat nuwe talent deurkom en omdat beamptes van Nagu graag saamwerk om die sport op alle vlakke uit te brei. Absa is bekend in sportkringe, veral as borg van die Curriebeker, Suid-Afrika se mees gesogte provinsiale rugbykompetisie. Nou kry plaaslike gholfspelers geleentheid om met ’n paar voëltjies en arende die bank te oortuig om selfs meer in die sportsoort te belê.
Absa het reeds sy merk op Namibië se gholfbane gemaak deur die Namibiese Ope vir Vroue in Windhoek, asook die Tsumeb Sages te borg. Die besturende direkteur van Absa Namibië, mnr. Marius Alberts, het gister by die borgskapoorhandiging vir die Absa klubkampioenskap gesê hy glo dit is die begin van groter dinge vir plaaslike gholf.
“Absa sal sy gewig by gholf ingooi, want dit is ’n sportsoort wat nog verder kan groei. Vele maatskappye word deesdae gedwing om weens die moeilike finansiële omstandighede hul borgskappe te onttrek, maar ons is verbind tot die sportsoort en daar is ’n goeie vennootskap tussen Absa en Nagu.”
Die Buiteklub se klubkaptein, mnr. Hajo von Prittwitz, het gesê Nagu sien uit na ’n opwindende naweek met ’n gholfbaan vol jong talent wat sterk aanspraak maak op die heel eerste Absa klubkampioenskapstitel. Hy hoop ook dat toeskouers die land se topspelers sal kom ondersteun. ’n Gunsteling om die manskompetisie te buit, is Francois Hanekom.
Hy is die verdedigende kampioen van die afgelope drie jaar in die klubkampioenskap, maar kan strawwe teenstand van die nuwe generasie soos Roux Jeffery, Ruan Huysamen en Glen de Waal verwag. Die drie 17-jariges het almal reeds die wensmaak in toernooie geproe en sal hul bes gee om Hanekom te onttroon.
Dan is daar ervare vorige wenners soos Doug Jeffery (2006), Aggie Dodds (2005) en Werner Lassen (2004, 2003 en 2002), om net ’n paar aanspraakmakers te noem. In die vroue-afdeling gaan ’n nuwe wenner bekroon word nadat verlede jaar se wenner Anneke Thorpe na Hermanus, Suid-Afrika verhuis het.
Sy het ook in 2004 en 2007 die trofee omhoog gehou. Vanjaar se gunsteling is Angie Lohman wat in 2008 die wenhou gesink het. Ander vorige wenners wat moontlik die naweek in aksie sal wees, is Caru du Plessis (2006), Daphne Howard (2005), Thea Groenewald (2003) en Zandra Kruger (2002).
Vandag is die sperdatum vir inskrywings in die Absa klubkampioenskap en mans en vroue wat wil deelneem kan ’n e-pos stuur aan Panga.Gabriel@absa.co.za of hom by 061-289 3044 skakel.
|