12.03.2010 Gesoek: Namibiese rugby-karakter
HULLE sê ware karakter word nie gemeet aan hoe hard ’n man geval het nie, maar aan hoe vinnig hy opstaan na die valslag. Hierdie gesegde is môre ook op die Welwitschias van toepassing wat ware Namibiese karakter teen die heersende kampioen van die vuurwarm Vodacombekerreeks van Suid-Afrika, Griekwas, moet bewys.
Dit gaan meer as net ’n karaktertoets wees. Die Welwitschias het heelwat verlore eer om te herwinnadat hulle in hul eerste twee wedstryde in die kompetisie loesings op die lyf geloop het. In hul eerste tuiswedstryd het die Griffons hulle geklop en in hul eerste wegwedstryd het die Luiperds korte mette met hulle gemaak.
Môre wag een van die taaiste teenstanders in Windhoek se Hage Geingob-stadion wanneer die gevaarlike strepiestruie van Kimberley om 16:00 die veld vat om te wys waarom hulle verlede jaar die beste in die reeks was.
Met ses ligapunte is Griekwas tans gesamentlik vierde ná die groepvoorlopers die Goue Leeus en die Blou Bulle (nege punte elk), Luiperds (sewe punte) en Griffons (ses punte). Die besoekers, ook bekend as die Poubloues, het verlede Saterdag die Griffons in Welkom met 59-31 afgeslag.
Die Griffons het ’n week tevore die Welwitschias in Windhoek met 45-26 oorrompel. Om hul slaankrag te bewys, het Griekwas sewe drieë ingeryg, en dit was eers diep in die tweede helfte dat die Griffons tot verhaal gekom het.
Dis ’n uitgemaakte saak dat die besoekers môre in die eerste helfte ewe vasberade op die aanval sal wees en die Welwitschias se verdediginglinies tot die uiterste sal beproef. ’n Reusetaak wag inderdaad op kaptein Jané du Toit (self ’n gewese Griekwas-speler) en sy woestynrose as hulle ’n einde wil bring aan die huidige treurmare waarmee Namibië na tien jaar na die Vodacomreeks teruggekeer het.
Afrigter Johan Diergaardt beproef môre weer ’n paar nuwe kombinasies in sy voorbereidingseisoen met die oog op deelname aan die 2011 Wêreldbeker in Nieu- Seeland. Insiggewend is dat ’n splinternuwe skakelpaar in aksie sal wees met Jacky Bock wat op losskakel sy kans in TC Losper se plek kry en Eugene Jantjies wat as skrumskakel begin.
Hugo Horn is terug in die beginspan met Shaun Esterhuizen wat ook beseer is. In die voorry sal hy in ’n gevestigde driemanskap met Johnny Redelinghuis (loskopstut) en Jané du Toit (vaskopstut) teen die bulsterk Griekwas-pak in die skrums sak.
Nog ’n ervare kombinasie is die slotte Wacca Kazombiaze en Heinz Koll, terwyl die lostrio van André Vermeulen, Renaud van Neel en die vurige PJ van Lill die eerste keer as ’n kombinasie begin.
Die Welwitschias se slaankrag in die middelveld sal moet kom van die senterpaar Daryl de la Harpe en Bradley Langenhoven, terwyl die sneltreine op vleuels Heini Bock en Llewellyn Winckler sal wees.
Chrysander Botha is as heelagter goed op dreef en hy sal sy geleerde linkervoet deeglik moet inspan met kantlynskoppe en pogings pale toe. Diergaardt het aan Republikein gesê die moraal in die groep bly hoog ondanks die twee stywe dragte slae.
“Gerugte van mismoedigheid in die kamp is ver van die waarheid. Ons almal besef ons moenie bang wees om foute te maak nie, maar ons is ook bereid om hard te werk en sake reg te stel. Ons is besig met ’n proefneming en dit neem tyd en geduld.”
Gevra oor Namibië se erg verdedigende benadering in die eerste twee wedstryde, het hy gesê dit is een van die foute wat gemaak is.
“Ons het dit in twee kragmetings beproef om verskeie redes, maar nou sal ons vinnig moet leer om ook doeltreffend te kan aanval. Ook dit verg tyd en baie oefening en ek glo ons is al nader aan ons ideaal in dié faset. Ons het nie sommer goedsmoeds in die reeks ingestap nie, maar eers ’n deeglike ontleding van ons situasie in die afwesigheid van sekere staatmakers gemaak en geweet dit gaan ’n moeilike paadjie wees. Wie weet, dit mag dalk net die naweek wees waar van ons planne realiseer.”
Die reserwes is Brendon Walters, Henk Roets, Morne Blom, Braam Vermeulen, Colin de Koe, Godwin Walters en TC Losper.
|