24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.08.2010

Finale ligawedstryd bepaal Hingste se mede-semifinalis



’n KRAGONDERBREKING en ’n reuse-agterstand van 0-47 het Vrydagaand in die Hage Geingob-stadion die ligte van die rugbyspan van Big Daddy Unam finaal uitgedoof. Rehoboth Rugbyklub (RRK) was gans te sterk in die finale ligawedstryd vir beide klubs in vanjaar se MTC Premierliga.

Die kragonderbreking 25 minute voor die bestemde einde was ’n genadeskoot vir Unam wat in daardie stadium nog nie ’n enkele punt kon aanteken nie. Dit terwyl die RRK die loop geneem het in ’n fees van sewe drieë deur Graham van Wyk (3), AJ Jevu (2), Johann Wohler en Gavin van Wyk (een elk).

Daarby was Nathan van Wyk se skopskoen in die kol met ses van sy sewe doelskoppe. Kudus van Walvisbaai se onttrekking teen Spes Bona United het vir die Windhoekers ses ligapunte en ’n reddingsboei beteken wat hulle steeds ’n buitekans in die wedloop na die halfeindronde bied. FNB Wanderers het op ’n stywe galop sy plek in die halfeindstryd as voorloper op die punteleer verseker.

Die Wi t Hingst e het behoorlik amok gemaak en die besoekende Mariental met 59-25 afgestof met agt drieë teenoor drie. Met die ses ligapunte verseker Wanderers dat hy boaan die punteleer met 54 punte na 14 kragmetings eindig.

Wanderers se triomfwas te danke aan drieë deur Lu-Wayne Botes (2), PJ van Lill (2), Dawie Koen, Heiko Prinsloo, Morné Prenn en Albertus Engelbrecht. Prinsloo was boonop in die kol met vyf doelskoppe en drie strafdoele vir ’n persoonlike oes van 24 punte.

Die vraag is net wie Wanderers se teenstander in die uitklopfase gaan wees? Mariental, FNB WesternSuburbs en Spes Bona United is die drie klubs met ’n kans om vierde op die punteleer te eindig, met alles wat van die laaste uitstaande ligawedstryd van die seisoen afhang. United het sy ligaverpligtinge voltooi en is tans vierde met 36 punte, gevolg deur Mariental met 36 en Suburbs met 32.

Western Suburbs se laaste kans wag komende Saterdag in die Hoenderhok op Mariental, wat ’n stywe opdraand kan beteken. Suburbs moet volpunte verdien en verbete keer dat die tuisspan ’n enkele ligapunt byvoeg. Net soos Wanderers se topposisie vasgeknoop is, kan niks meer verhinder dat Reho Falcon tweede en Rehoboth derde eindig nie.

Die twee buurklubs van Rehoboth is dus bestem vir ’n halfeindontmoeting waarvan die afwagting en intensiteit al hul vorige derbies kan oorskadu. Die Valke en Wanderers is as voorlopers die meeste kenners se gunstelinge om die eindstryd te haal.

Rehoboth is die verdedigende kampioen en is net soos verlede seisoen terug in die uitklopfase. Rugbyliefhebbers kan verseker wees dat die pylvak na die MTCeindstryd nog vir heelwat drama gaan sorg.