
So het die wenkombinasie van Eleven Arrows gejubel.
SELFS ‘n klapper op die pawiljoen wat geskiet is deur ‘n polisieman en toe ‘n paar sproeiers wat op vreemde wyse die water deur die lug laat trek het, kon nie verhinder dat Eleven Arrows as die eerste wenners van First National Bank (FNB) se sokkerfees gekroon word nie.
Saterdag in die Khomasdalstadion het die gedugte kombinasie van Kuisebmond gewaarsku dat hulle vanjaar met alle toekennings wil wegstap. Die telbord het na 90 minute se spel op 3-0 in Arrows se guns gestaan. Dit is nie aldag dat ‘n span teen Black Africa in ‘n eindstryd wen nie.

Brian Bantam van Black Africa (links) en Tara Katjipose van Eleven Arrows in aksie tydens Saterdag se FNB-sokkerfees.
Black Africa, ook bekend as die Leeus, is Namibië se onbestwiste bekerkampioene en sy aanhangers was oortuig dat hulle weer sou wen. Maar Arrows se afrigter, Gilbert Rwasoka, het vir Rudolf Bester en die jeugdige Donovan Swartz in sy elftal ingesluit.
Dit was sy twee troefkaarte. Vir Swartz was dit boonop ‘n soete oorwinning, want dit was teen sy gewese spanmaats. Swartz is ‘n bonkige mannetjie wat veg vir elke bal en hy hardloop vir 90 minute in oop gate. Hy is inderdaad ‘n aanwins vir Eleven Arrows.
Die man van die wedstryd is ongetwyfeld Rudolf Bester. Hy was ‘n doring in die vlees van Black Africa en met sy vyfstervertoning moes die afrigter van die Brave Warriors, Tom Saintfiet, breed geglimlag het. Saintfiet was oudergewoonte op die pawiljoen om nuwe talent dop te hou wat hy ‘n kans gee om verder by die nasionale oefenkamp te ontwikkel.

Eleven Arrows se Rudolf Bester dryf met die bal.
Bester se eerste doel was ‘n bielie nadat ‘n aangee uit die middelveld die agterlyn van Black Africa oopgevlek het. Rudolf het bewys dat hy op ‘n hoër vlak deelgeneem het met skitterende balbeheer voordat hy die regterhoek van Black Africa se doelhok getref het. Die doel het vir ‘n 1-0 voorsprong met rustyd gesorg.
Met die wegspring van die kragmeting het Black Africa ‘n paar bewegings gemaak wat die sterbelaaaide Arrows se ritme omvergegooi het. Maar die paar kanse wat die Leeus geskep het, is egter voor die doelhok verbrou. Die naaste aan ‘n doel was toe Jerome Louis se kopstamp die regterpaal getref het. Na rustyd was dit die Walvisbaaiers wat die krane behoorlik opgedraai het. Eleven Arrows het met kort man-tot-man-aangeë die tuisspan onder druk geplaas.
Dit was duidelik dat die nuwe afrigter van Black Africa, Sign Nunge, nog nie sy spelers se speelvermoë onder die knie het nie en dat daar nog huiswerk is om te doen. Nunge is egter ‘n ervare afrigter wat binne die volgende paar weke ‘n kombinasie kan saamstel wat Black Africa sy aanslag op die Premierliga kan behou.
Saterdag in die Khomasdalstadion was dit ‘n onkeerbare Eleven Arrows-span wat met aanskoulike sokker vorendag gekom het. In die 55ste minuut was die telling 2-0 nadat Henry Somseb met ‘n strafskop van elf meter geslaag het. Die gewese speler van Cymot SKW het sy plek in Arrows se kombinasie losgespeel en teken gereeld doele aan vir sy nuwe span.
Toe kom die doodskoot in die 80ste minuut. ‘n Hoë bal het vir die tweede keer die verdediging van Black Africa geklop en die ongemerkte Bester het dankie gesê toe hy die bal in die doelhok geskop het. Dit was manjfiek, dit was briljant, dit was Bester op sy beste. Africans Stars het in die derde plek geëindig na hul 2-0 oorwinning oor Tigers danksy doele deur Ikawaterua Tjozongoro en Edison Muheua.