8.03.2010 Eina Welwitschias!
DIE volle geweld van Vodacomrugby het die Namibiese Welwitschias Vrydagaand getref toe die Suid-Afrikaanse Leopards hulle kaalgestroop het en die bene uitgespoeg het vir ‘n eindtelling van 52-11. Rustyd was die skrif so te sê aan die muur toe die Katte van Potsch met 26-8 voorgeloop het.
Die Namibiese punte is aangeteken deur Llewelyn Winkler wat die enigste drie vir die Namibiërs behaal het. Twee strafskoppe is deur die skopskoen van Chrysander Botha behaal. ’n Stewige reënbui en ’n sopnat Potschestroom het spel vir die Namibiërs ook nie maklik gemaak nie. Inteendeel, van die manne met wie Republikein gesels het, sê dit was moeilike omstandighede wat hulle heeltemal van stryk gebring het.
Die skrale drie punte wat na rustyd by hul verloortelling gevoeg is, vertel die verhaal. Harde werk wag op die tegniese span van Namibië waar Vrydagaand weer bewys is hoe groot die gaping tussen eersterangse rugby in Suid-Afrika en Namibiese klubrugby is.
Hierdie naweek wag ‘n nog hoër hekkie wanneer die Welwitschias die heersende Vodacom-kampioene, Griekwas, Saterdag om 14:00 in die Hage Geingob-stadion in Windhoek aandurf.
Rugbykenners meen egter dat dit vir enige afrigter moeilik sal wees om onmiddellik sukses met die Welwitschias te behaal. “Die span kry nie geleentheid om vriendskaplike wedstryde te speel nie en dit sal tyd neem om aan te pas by die standaard wat in die kompetisie vereis word,” het die ghoeroes vertel.
|