
Heinz Koll en Ismauel “Smiley” du Plessis het die afgelope week hard op die oefenveld voorberei vir môre se Vodacombekerstryd teen die Griffons.
DIE oomblik van waarheid het aangebreek vir Johan Diergaardt en sy Welwitschias rugbyspan wat môre om 14:00 in die Hage Geingob-stadion teen 2010die Griffons van Noord-Vrystaat opdraf.
In sommige kringe is gal gebraak oor die spankeuse, spesifiek die afwesigheid van spelers van Rehoboth Rugbyklub, die huidige Premierligakampioen. Diergaardt se antwoord hieroor aan Republikein was dat 80 persent van Rehoboth se genooide spelers bloot nie opgedaag het nie, terwyl die genooides van ander klubs almal teenwoordig was.
Dit is duidelik dat Diergaardt streng dissipline toepas en nie enige spelers voortrek soos daar bespiegel word nie.

Afrigter Johan Diergaardt en Kaptein Jané du Toit wens mekaar voorspoed toe.
Hoe ook al, na jare maak Namibië weer sy verskyning in die SA kompetisie. Vanjaar wag N$500 000 op die wenspan en nog ’n halfmiljoen word deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geskenk vir die ontwikkeling van rugby in die wenstreek.
Baie is op die spel en daar sal hard gewerk moet word om minstens na die halfeindstryd deur te dring. Republikein wou gister by Diergaardt weet hoe hy en sy tegniese span die kragmeting teen die Griffons beplan.
“Die verwagtinge is baie hoog en ons weet nie werklik hoe sterk die kompetisie is nie, behalwe wat ons op televisie sien. Ons weet nie hoe ons teen die spanne opweeg nie. Die Griffons-wedstryd kan dus ’n wekroep vir ons wees om te weet hoe hoog die standaard en vereistes van die Vodacombeker is. Maar ondanks die gebrek aan vriendskaplike wedstryde glo ek ons manne is positief en baie goed voorberei vir die uitdaging.”
’n Paar bekende name is in die Griffon vyftiental en daar sal wal gegooi moet word deur die Welwitschias. Die haastige Eddie Fredericks is ’n vleuel wat goed dopgehou sal moet word. Hy sal graag wil wys dat sy ervaring en spoed steeds ’n plek in die Cheetahs se Super-14 span verdien.
Republikein het Woensdagaand ’n draai by die Namibiërs se oefensessie gemaak om te kyk hoe die oefenprogram en voorbereiding verloop. Die gees in die kamp lyk goed, die spelers is oorgehaal om kritici se monde te snoer en hulle wil as ’n span aan die gemeenskap bewys dat plaaslike rugby reg is om sy plek in die Vodacombekerreeks in te neem. Al wat hulle vra, is volgehoue ondersteuning van die gemeenskap.