25.08.2010 Een uit, twee oor om die stryd te stryNSV-presidentskap ’n vuurwarm wedloop…
 Eers was daar drie. En nou is daar nog net twee kandidate in die verkiesingstryd om die nuwe president van die NSV vir die volgende vier jaar te bepaal. Nadat dr. Korbinian Amutenya (middel) hom vandeesweek aan die wedloop onttrek het, is die verkiesingstryd tussen mnre. John Muinjo (regs) en Ranga Haikali (links) nou nog warmer en sokkerondersteuners kan skaars wag vir die aankondiging vroeg in Oktober.
IN ’n aanloop wat al die elemente van ’n politieke verkiesingstryd bevat, het een kandidaat plotseling onttrek en net twee manne is oor in die wedloop om die septer in die Namibiese Sokkervereniging (NSV) se Sokkerhuis- kasteel te swaai.
Republikein kan vandag onthul dat die NSV se voormalige visepresident, dr. Korbinian Amutenya, hom aan die wedloop onttrek het. Dr. Amutenya het gister by navraag bevestig dat hy nie meer in die wedloop is nie vir redes wat hy “regverdigheidshalwe” genoem het.
“Die besluit het na deeglike selfondersoek en ondersoek na die breër prentjie van die posisie gekom. Ek weet my benoeming deur my aanhangers is in goeder trou gedoen, maar ek, en net ek alleen, moes uiteindelik hieroor besluit. Ek het reeds die NSV oor my besluit ingelig en kan net sê ek hoop die mees geskikte man kry hierdie baie verantwoordelike pos.”
Sy onverwagse onttrekking bring mee dat die tweestryd tussen die huidige NSV-president, mnr. John Muinjo, en mnr. Ranga Haikali oornag in felheid toegeneem het.
’n Vurige stemwerwery kan verwag word voordat die verkiesing in Oktober plaasvind, en Republikein wou by elkeen weet wat sy eerste doelwitte sou wees indien hy die paal haal.
Mnr. Muinjo, wat aan die einde van sy vierjaar-termyn kom, lyk na ’n kortkopgunsteling met sy jarelange ondervinding van die NSVstrukture en uitstekende verhoudinge met die wêreldbeheerliggaam Fifa en alle sokkerbeheerliggame in Afrika.
In sy huidige termyn het hy waardevolle ondervinding opgedoen en groot respek afgedwing met sy kalm, dog ferm manier van dinge doen en resultate behaal.
“As ek herkies word, sal ’n baie groot deel van my visie ingestel wees op ontwikkeling om volgehoue vordering op alle vlakke van sokker te verseker, en ons sal ’n volhoubare etiese beleid moet navolg. Ontwikkeling geskied nie oornag nie en daarom wag harde werk in die onmiddellike toekoms en daarna. Die NSV moet pro-aktief in hierdie ontwikkeling wees. Dit is ’n absolute prioriteit sover dit my betref.”
Sy teenstander, mnr. Haikali, het die oë laat rek met ’n indrukwekkende verkiesingsmanifes, in volkleur op glanspapier gedruk en met die titel
“Stem vir Verandering”. Hy het aan die koerant gesê sy doelwitte word baie duidelik in die manifes uitgespel, maar dit kortliks opgesom as ’n verbete poging om sokker in die land na hoër vlakke aan te help.
“Veel groter deursigtigheid en meer vertroue is nodig in die NSV, en ons sal dringende aandag aan ontwikkeling moet gee. Meer bronne in al die ouderdomsgroepe sal ontgin moet word, en al die onderskeie streke sal met meer mag toegerus en vertrou moet word. Streng gedissiplineerde administrasie sal die wagwoord moet wees, en die NSV sal borgskappe beskikbaar moet stel. Daarna sal dit grootliks van die streke afhang hoe hulle daarmee woeker en ontwikkel.”
Hy is ook ’n voorstander dat die moederliggaam deurentyd onbaatsugtige werk lewer en te alle tye streef om die spel deurlopend te verbeter.
“Ons moet sokker bevorder en bestuur in die gees van eerlike spel en sokker se onbetwisbare opvoedkundige, kulturele en humanitêre waardes, hoofsaaklik deur jeug- en ontwikkelingsprogramme respekteer. Hiermee saam moet ons streef om die vriendelike verhoudinge tussen lede, filiale, beamptes, spelers en ondersteuners te bevorder en aan te moedig deur die aanbieding van sokkerwedstryde op alle vlakke.”
Ten slotte het hy gesê daar is min hoop dat sokker sy verwagtinge op plaaslike en internasionale vlakke sal kan volbring as die NSV nie oor ’n duidelik verklaarde beleid en strategie beskik nie.
“Ons doelwit sal wees om die NSV in ’n doeltreffende organisasie met genoegsame hulpbronne te ontwikkel om hierdie doelwitte te bereik.”
|