
Teberius Lombaard (regs) van Orlando Pirates spring hoog in die lug om die bal van African Stars-vleuel, Rudi Louw, af te keer.
DIE twaalfde rondte van die MTC Premierliga het vir die ligaleier en verdedigende kampioen, Black Africa, in trurat begin nadat die span Vrydagaand teen SKW in die Sam Nujoma-stadion met twee doele elk gelykop gespeel het. Al vier doele was in die eerste 30 minute van die eerste helfte aangeteken. Die doele het verwagtinge vir die res van die wedstryd geskep, met uitstekende, aanvallende spel deur albei spanne tot die eindfluitjie geblaas het. SKW het egter sterker en met meer kanse op doele in die laaste tien minute van die wedstryd afgesluit.
In die begin van die wedstryd het die spelers van SKW ’n bietjie gesukel , veral op verdediging wat te veel gapings gehad het. Ek kon sien dat die spelers meer takties begin speel het, wat meer kanse vir doele begin skep het. Aan die einde van die wedstryd glo ek die ondersteuners kon sien dat die span vol gehalte spelers is,” het Lucky Kakuva, afrigter van SKW gesê. SKW se een vleuel, Joslin Kamutuka, het die eerste doel in die wedstryd teen die verloop van die spel aangeteken, nadat ’n lang ingooi deur Elvis Tjivisera naby Kamutuka gedeflekteer is. Minute later het Eslin Kamahunga buite die doelhok ’n briljante skop geneem om die telling een elk te maak.
SKW het weer in die 24ste minuut met 2-1 voorgeloop nadat Martin Kamabunga met ’n vryskop geslaag het en die bal verby Black Africa se doelwagter, Arnold Subeb, in die doelhok geskop het. Black Africa het die gelykmaker in die 29ste minuut aangeteken nadat Bradley Wermann die bal met sy kop in die doelhok geslaan het. Bradley Wermann het die telling vir Black Africa gelykop gemaak, nadat SKW se doelwagter die bal van ’n hoekskop na Wermann se posisie gekeer het. In ’n ander wedstryd het African Stars Saterdagaand in Sam Nujoma-stadion teen Orlando Pirates op dramatiese wyse met 1-0 in die laaste minuut gewen. Muna Katupose het die wendoel van ’n hoekskop vir African Stars aangeteken.
African Stars spanbestuurder, Lesley Kozon- guizi, glo dat Orlando P i r a - tes se s p e - lers fisies groter was en dat die span sterk op hul vleuels was. “Die Orlando Pirates-vleuels was baie vinnig, en die span se verdediging moes op hul vleuels fokus om die vinnige teenaanvallende spel te stuit. Ek glo al twee spanne het goeie kanse vir doele gehad, maar African Stars se verdediging het tot die einde gehou,” het Kozonguizi gesê. Kozonguizi het ook gesê dat die doel van die span is om al hul wedstryde van die tweede rondte te wen en dat die oorwinning teen Orlando Pirates ’n goeie begin is.
In ander wedstryde het Eleven Arrows vir Mighty Gunners met 3-0 op Otjiwarongo geklop, terwyl United Stars, premier-nuwelinge van Rundu, met twee doele elk teen Tigers gelykop gespeel het. Ramblers het hul sesde oorwinning van die liga gehad nadat dit Hotspurs met 4-2 geklop het.