
Jaco Wiese van WHS op pad na die doellyn van Wellington Hugenote tydens gister se openingswedstryd van die rugbyprogram.
GISTER was dit ’n miernes van skoolkinders en ondersteuners by die eerste dag van Windhoek Hoërskool en die Janine en Suzelle Davin Sporttrust se sportfees wat by die spogskool se sportvelde afgeskop het.
Vandag en veral môre word duisende ouers verwag om die byeenkomste in rugby, hokkie, netbal en tennis by te woon.
Die opening het op ’n hoë noot vir die tuisskool begin toe die eerste rugbyspan sy teenstander uit Wellington, Hugenote, in ’n o.19-naelbyter geklop het. Die telling na 70 mi¬nute se spel het op 13-10 in WHS se guns geëindig.
Dit was mooi hardlooprugby wat die kinders op die hoofpawiljoen op hul voete gebring het. Die tuisspan was met rustyd 10-3 voor en dit het gelyk asof hulle oor die mannetjies van Wellington sou hardloop.
Die skopskoen van Bafie Deysel het vyf punte aangeteken toe hy ’n strafskop en doelskop behaal het. Die drie is gedruk deur Pieter Janse van Vuuren. Die besoekers het teruggekom met ’n drie deur die haker Lourie Theron wat deur Francois Small verdoel is.
Die telling was 10-10 toe Deysel die beslissende strafskop suiwer deur die pale gestuur het vir ’n naelskraap oorwinning. Vir die gasheerskool was die oorwinning ’n goeie aansporing vir die res van die kragmetings wat voorlê.