
Johan Diergaardt
’n TAMHEID onder die land se voorste rugbyspelers het meegebring dat ’n oefengroep vir die belangrike komende seisoen versplinter het.
’n Teleurgestelde Namibiese afrigter, Johan Diergaardt, het aan Republikein gesê die manne wat nie die pyp gerook het in die oefengroep nie, het net hulself te blameer. “Geen speler is weggejaag nie, dié wat afwesig was by oefensessies en nie die finale groep gehaal het nie, moet besef hulle het hulself weggejaag.”
Dié situasie het ontvou op die vooraand van die eerste kragmeting in die 2010 Vodacombekerreeks waarin Namibië gaan meeding.
Rugbyvrate lek hoeka hul lippe af vir wanneer Namibië in sy openingswedstryd teen die giftige Griffons opdraf. Die verwagte aksiebelaaide middag begin Saterdag om 14:00 in die Hage Geingob-stadion wanneer ’n splinternuwe speelveld vir die nasionale span ooprol. Boonop draf die trotse amateurs van die Namibwoestyn met kraakvars uitrusting van die sportreus Puma uit.
Republikein het Diergaardt gevra hoe lyk dinge in die Namibiese kamp. “Die voorbereiding het tot nou goed verloop en vorentoe lyk dit ook belowend, hoewel ons weens omstandighede gedwing is om ’n paar veranderinge te maak. Ek is oortuig die span het baie potensiaal en dat ons dalk nog skerper kon wees met ’n paar wedstryde teen ander provinsies.
Wedstrydoefening bly maar die kopseer vir Namibiese rugby met ons beperkte spelersbronne, maar hopelik gaan dinge nou verander met deelname aan die Vodacombekertoernooi.
“Mense moet onthou dat ons ernstige geldtekorte beleef en dit maak dit soveel moeiliker vir ’n span om op hierdie vlak uit te draf. Die Vodacomreeks is net die regte blootstelling vir ons spelers wat nou al hul aanslag moet begin toespits om in die arena van die beroepspelers te beland vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland.”
Diergaardt het benadruk dat die verskuiwing van die wedstryd van Vrydag na Saterdag geen probleem sal wees nie. “Dit gee ons ’n ekstra dag om finale afronding te voltooi vir ons langverwagte buiging in die Vodacomreeks.”
Diergaardt het klem gelê op die feit dat Namibië se kompas lankal ingestel is op die noordelike groep van die reeks en dat hulle reeds hard voorberei vir die komende wegwedstryd teen die Luiperds.
’n Vermoeiende tog wag op die Namibiërs wat Donderdagmiddag in Johannesburg sal aankom en Vrydagaand om sewe-uur teen die Luiperds uitdraf.
Diergaardt het ook die sluier gelig oor die samestelling van die nasionale span nadat sommige beamptes van klubs ontevrede was met die keuses.
“Die heel eerste ding wat ek kan sê, is dat spelers gekies word deur ’n keurkomitee en met my aanstelling op 1 Desember was daar reeds ’n groep van 60 spelers. Ons het met die spelers gewerk van wie 80% nie opgedaag het vir oefensessies nie, soveel so dat ons van hulle ontslae moes raak. Sommige het met rukke en stote opgedaag, terwyl andere nie een keer in die gimnasium was nie. Hulle het ’n wye reeks van verskonings aangebied vir hul afwesigheid. Almal is amateurs en moet werk, maar ons kan ongelukkig nie uitsonderings maak nie. Bywoning van oefeninge word juis so gereël dat spelers kan inpas.
“Tweedens, die bywoning van oefeninge was nie soos dit behoort te wees nie. Die skuldiges rakende die gevalle wat die klubs uitsonder, is nie die keurkomitee of die afrigtingspan nie, maar moet vierkantig voor die deur van die spelers gelê word. Hulle het hul kans nie gebruik nie, hulle het dit inteendeel misbruik deur nie op 2010te daag nie. En van die afwesiges kan regtig ’n aanwins vir die land wees. Ek wil die storie oor spelers wat nie in die groep is nie net weer duidelik stel: niemand is weggejaag of sleg behandel nie.”
Diergaardt het erken dat min inligting oor die Griffons bekend is omdat dit maar ’n kleitrappery is om videomaterial van hulle in die hande te kry. Diergaardt en sy span is nietemin vasbeslote om geen kanse te waag op die nuwe rugbypad nie.
Die Namibiërs se volgende tuiswedstryd is op Saterdag 13 Maart om 14:00 teen die Griekwas.