DIE netbalklub Civics nooi al sy huidige en voornemende spelers om by sy voorbereiding op die komende seisoen aan te sluit. Oefensessies het vandeesweek begin en vind op Dinsdae en Donderdae om 18:00 by die Khomasdalbaan plaas.
Civics het die 2008 nasionale kampioenskap gewen en die 2009-seisoen met ewe veel ligapunte as Black Africa en African Stars afgesluit. Die klub is opgewonde oor die nuwe seisoen onder leiding van sy twee afrigters, Vehonga Wency Katjatako en Desiré Cloete. Katjatako het Namibië op junior en senior vlak verteenwoordig voordat sy haar merk tussen 2004 en 2008 by die Boland en die Stellenbosch Netbalinstituut gemaak het.
In die tyd het sy selfs die Suid-Afrikaanse A-span en die SA o.21-groep gehaal. By die Suid-Afrikaanse kampioenskap is sy boonop as speler van die toernooi en beste verdediger aangewys. Desiré Cloete het ook benewens Namibiese skole-, o.21- en senior kleure verteenwoordigende netbal in die Wes-Kaap gespeel. Beide Cloete en Katjatako het ook erkende skeidsregter- en afrigterskwalifikasies in Suid-Afrika behaal.
Enige toegewyde spelers word genooi om aan te sluit. Navrae kan aan Anita by sel. 081 128 8929 gerig word.