
Die Brave Warriors sal vanaand kanse vir aanvallende spelers soos Rudolf Bester moet skep indien hulle Bafana Bafana wil verras.
DIE Brave Warriors van Namibië het al op ’n hele paar sokkervelde in Afrika gespeel, maar vanaand is daar waarskynlik sterker landstrots op die spel in die amptelike inwydingswedstryd van die nuwe Moses Mabhida-sokkerstadion in Durban teen die gasheerland se Bafana Bafana. Die afskoptyd is 20:30, vir sokkerliefhebbers wat die aksie regstreeks op televisie wil volg.
Met die ganse sokkerwęreld se oë op Suid-Afrika as gasheer van die Węreldbekertoernooi in Junie, sal vanaand se uitslag heel moontlik in elke uithoek van die planeet bespreking uitlok. Namibië en Suid-Afrika was reeds vier keer op internasionale sokkervelde slaags, met die Brave Warriors een keer aan die wenkant, een wedstryd gelykop en die groen-en-goues wat twee keer koning gekraai het. Vir beide lande is dit ’n geleentheid om die sokkervure weer te laat vlamvat ná die teleurstelling dat hulle nie vir die afgelope Afrika Nasiebekertoernooi kon kwalifiseer nie.
Bafana Bafana se span vir vanaand kom oorwegend uit Suid-Afrika se premierliga, maar ook uit voorste klubs in Duitsland, Griekeland, Israel en België. Die Namibiese afrigter, Tom Saintfiet, het gesę in hierdie kragmeting gaan sy span alles tot hul beskikking inspan om te verseker die Warriors kom nie met rooi gesigte terug uit Durban nie.
“Ons visiere is ingestel om aan te meld by die 2012-toernooi wat gesamentlik deur Ekwatoriaal-Guinee en Gaboen aangebied sal word.” Hy sę die afgelope Nasiebeker het bewys dat as taktiek, tegniek en verfynde vaardighede toegepas word, is dit die spanne met die beste dissipline, beste afrigting en beste samespel en organisasie wat die knoop deurhaak. Een ding is verseker: Saintfiet het groot planne met die Brave Warriors in die langtermyn.
Vir hom en sy Krygers is vanaand die eerste stap, want sou Namibië vanaand vir Bafana Bafana skrikmaak, sal die hele Afrika deeglik kennis neem. Dis interessant om te sien dat Bafana Bafana se afrigter, Carlos Alberto Parreira, die wenkbroue laat lig het met die aankondiging van sy groep. Parreira het ’n ommekeer gemaak van sy oorspronklike belofte dat hy net beroepspelers in Suid-Afrika sou kies.
Hy het onverwags op die knoppe gedruk van drie spelers wat in Europa speel, naamlik Bradley Carnell, Bryce Moon en Bevan Fransman. Vanaand se wedstryd en amptelike opening is ook ’n feesgeleentheid om die 100 dae laaste na die Węreldbeker af te tel. Die teenwoordigheid van die president van die węreldbeheerliggaam Fifa, Sepp Blatter, sal nog meer glans aan die wedstryd verleen wat waarskynlik die grootste skare sal lok voor wie verskeie van die Brave Warriors nog uitgedraf het. Rugbybase in Suid-Afrika het gister hul volle gewig agter Bafana Bafana ingegooi.
Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) en die Springbokafrigter Peter de Villiers was albei in Durban om die laaste 100 dae voor die Węreldbeker te help aftel. Namibië se slaankrag lę beslis in sy voorste linie waar manne soos Henrico Botes en Rudolf Bester gate in enige span kan hardloop.
Beide is bekend in Suid-Afrika met Bester wat vir Maritzburg United en Botes wat vir Platinum Stars diens doen. Saintfiet is verlede jaar erg gekritiseer omdat sy Krygers ’n oorwegend verdedigende formasie gehandhaaf het. Vanaand sal hy waarskynlik by sy patroon hou, want Bafana Bafana is deesdae weer ’n opgekikkerde span wat geleenthede kan aangryp om bresse te slaan met hul aanvallende spel.
In wegwedstryde is die beste medisyne om die verdediging stewig te hou en die opponent met teenaanvalle te probeer uitoorlę. Saintfiet kan vanaand ’n skokgolf deur Afrika laat rammel as hy met ’n fyn sielkundige strategie en gewillige soldate die knoop deurhaak.
Die twee groepe is:
Namibië: Virgil Vries, Attiel Mbaha, Hartman Toromba, Richard Gariseb, Nelson Geingob, Steven Goagab, Oliver Risser, Michael Pienaar, Quinton Jacobs, Sidney Plaatjies, Rudi Louw, Rassie Tjikuzu, Paulus Shipanga, Ninja Karongee, Heinrich Isaacs, Eslin Kumahanga, Rudolf Bester, Henrico Botes en Wilco Risser.
Suid-Afrika: Emile Baron, Itumeleng Khune, Bradley Carnell, Bevan Fransman, Morgan Gould, Bryce Moon, Anele Ngcongca, Siyabonga Sangweni, Mzuvukile Tom, Lucas Thwala, Siyanda Xulu, Lance Davids, Andile Jali, Thanduyise Khuboni, Daine Klate, Reneilwe Letsholonyane, Siphiwe Tshabalala, Teko Modise (kapt), Lebohang Mokoena, Tlou Segolela, Katlego Mphela en Thulani Serero.