5.02.2010 Broeke bewe in MTC Premierliga
 Woensdagaand se aksie in die naelbyter sokkerwedstryd tussen Orlando Pirates en Ramblers.
’n NAWEEK van spanning wag weer met van die groot kanonne wat die pylvak van die MTC Premierliga nader. Die kragmeting wat waarskynlik die meeste aftrek sal kry, is die een tussen Eleven Arrows en African Stars in die Kuisebmondstadion op Walvisbaai.
Woensdagaand se kragmeting tussen Oshikandela Ramblers en Orlando Pirates in die Sam Nujoma-stadion in Katutura het self die verbeelding op hol gesit met beide spanne wat wou wys hulle handhaaf ’n standaard waardig van kampioene.
Aan die einde van 90 minute was dit ’n 1-1 gelykopuitslag nadat die telbord met rustyd op 0-0 gestaan het. Die naweek se uitslae kan ’n skommeling in die puntestand meebring met van die kandidate wat dalk kan opskuif tot in die topgroep waar dinge op ’n vuurwarm einde afstuur. African Stars sal môre moet seker maak van ’n oorwinning teen Eleven Arrows as hy vir die tweede agtereenvolgende jaar die voorloper wil bly vir die wennerstjek van N$600 000.
Na Arrows se verrassende oorwinning van 3-0 oor Civics (’n tradisionele topspan van die land) lyk dit asof die groot name van Arrows nou hul samespel gevind het en reg is om hul teenstanders met gifpyle te peper. Boonop bied die kragmeting ’n uitdaging aan die jong afrigter Congo Hindjou wat onlangs die leisels by Ronnie Kanalelo oorgeneem het.
Hindjou was in sy speeldae ’n staatmaker in die seëvierende African Stars kombinasie, asook vir Civics en die destydse Liverpool van Okahandja. Civics het self vir drie agtereenvolgende seisoene die MTC Premierliga-trofee leeg gedrink, maar draf sedert verlede seisoen met die rug teen die muur uit en is sedertdien nie meer naastenby die krag waarmee hulle opponente uit die pad gevee het nie.
Die Mighty Civilians spog steeds met ’n handvol sterre, maar die manne sukkel om te skitter. Môre wag nog ’n taaie wanneer hulle weg moet speel teen FNB Oshakati City. Laasgenoemde is gewoonlik moeilike kalante op hul tuisveld en kan op ’n goeie dag enige besoeker se hoop verydel. As Oshakati weer wen, kan selfs die relegasiespook een van sy slagoffers wees.
’n Wedstryd wat ook ’n donderstorm in die reënseisoen kan wees, is die een tussen die gekneusde Cymot SKW en Blue Waters môre in die SKW-stadion. SKW het verlede week ’n paar letsels opgedoen toe Ali Akan se Rammies hulle met 3-0 afgeransel het.
Blue Waters is self vol blou kolle nadat hulle met 3-1 deur die relegasiekandidaat Hotspurs verras is. En net om hul erns in die liga te bewys, gaan twee van die spanne met die minder bekende knape in hul geledere môre om 19:00 ook hul beste voete voorsit in ’n kragmeting wat ook sommer vuurwarm kan word.
Wesbank Tigers is sterk in ’n wedloop om in die gesogte boonste vier spanne te beland, terwyl United Stars besig is om die standaard van die gesogte Premierliga onder die knie te kry.
Die manne van Rundu het verlede naweek met ’n groot verrassing teen die sterbelaaide Black Africa vorendag gekom. Die gelykopuitslag van 2-elk het al die ander spanne in die liga deeglik laat kennis neem van die opmars uit die Kavangostreek. Black Africa speel vanaand om agtuur teen die omgekrapte Hotspurs.
|