
Die Moses Mabhida-stadion waar Namibië se Brave Warriors op 3 Maart teen Suid-Afrika se Bafana Bafana kragte gaan meet.
DIE Brave Warriors gaan 2010 Wêreldbeker toe! Wel, nie rêrig nie, maar ’n reuseeer het die Namibiese sokkerspan te beurt geval deur genooi te word om op 3 Maart in die amptelike inwydingswedstryd van die splinternuwe Moses Mabhida-stadion in Durban teen die gasheerland se Bafana Bafana kragte te meet.
Die stadion met sitplek vir 70 000 toeskouers sal in Junie en Julie tydens die Wêreldbekertoernooi gebruik word. Een halfeindstryd sal daar gespeel word, asook vuurwarm groepwedstryde soos Duitsland-Australië, Spanje- Switserland, Nederland-Japan, Nigerië teen Suid-Korea en Brasilië teen Portugal.
Hierdie besondere wedstryd, wat blykbaar selfs deur Sepp Blatter, president van Fifa, bygewoon sal word, sal help om die sokkervure in Namibië weer hoër te laat brand ná die teleurstelling dat die Warriors nie vir die pas afgelope Afrika Nasiebekertoernooi kon kwalifiseer nie. ’n Verheugde Tom Saintfiet as nasionale afrigter kon kwalik sy blydskap verbloem toe hy gister die wonderlike nuus aan Republikein bevestig het.
“Ja, danksy ’n reuse-poging deur die Namibiese Sokkervereniging (NSV) se president, mnr. John Muinjo, is ons die uitverkorenes om die inwydingswedstryd in Durban teen ons buurman te speel. Ek beskou dit as die eerste van vele groot stappe wat ons vanjaar en die daaropvolgende jare gaan doen om seker te maak Namibië is in 2012 een van die 16 Afrika-spanne by die volgende Nasiebeker.”
Saintfiet het gesê die kragmeting teen Bafana Bafana sal meebring dat hy alles en almal tot sy beskikking gaan inspan om te verseker die Warriors nie met rooi gesigte uit Durban terugkom nie. “Hierdie geleentheid het my opnuut laat besef dat Namibiese sokker dringend ’n inspuiting nodig het. Nie net geldelik nie, maar ’n drastiese verandering in ons ganse spelstrukture.
Ek was die afgelope tyd met heelwat invloedryke mense in gesprek en my voorstel is dat ons teruggaan na die streekkompetisies soos in die jare 80 en 90 sonder regulasies, en dat ons die kommunikasielyne verskerp en ons spel na ’n veel hoër vlak opjaag.
“’n Onding in ons sokker is dat ons sterre wat in Europese en Afrika-klubs is, met die uitsondering van enkeles deurgaans hul tyd op reserwebanke verwyl, of op uitstappies te voet in vreemde groot stede is. Hul afwesigheid verswak ons Premierliga en mense kan maar kwaad word as ek sê ons standaard boer agteruit. Namibiese sokker het gestagneer en ons sal ’n daadwerklike poging moet aanwend as ons vorentoe wil beweeg met drome van deelname aan die 2012-toernooi wat gesamentlik deur Ekwatoriaal-Guinee en Gaboen aangebied sal word.”
Saintfiet ag die wedstryd teen Bafana Bafana so belangrik dat hy reeds ’n groep van 48 spelers geoormerk het vir ’n volwaardige oefenkamp in Februarie. Dit sal bestaan uit al die beskikbare beroeps- en plaaslike spelers.
“Daar is sommer hope eer en trots op die spel vir die kragmeting en ek gaan nie Durban toe reis om met ’n yslike telling teen Bafana Bafana in die jaar van die Wêreldbeker te verloor nie. Ons sal ’n reusepoging aanwend om vir Afrika te bewys ons het die talent.
“Dit was vir my juis tydens die afgelope Afrika Nasiebeker hartseer dat al ons buurlande daar uitgedraf het terwyl ons met al ons talent die wedstryde op die TV moes volg. Ek het in 2008 met my aanstelling gesê my doelwit is om in 2012 teenwoordig te wees. Niks het sedertdien verander nie; ek is net meer vasberade om dit te vermag. My wekroep aan ons spelers in die buiteland wat so min ervaring opdoen, is: Kom asseblief huis toe manne, sodat ons ons eie ligas kan opbou en uiteindelik die room skep vir deelname elders.”
Hy het benadruk dat die afgelope Afrika-toernooi bewys het groot, fisieke spelers is lankal nie meer die enigste norm vir wedstrydwenners nie.
“In ons eeu van taktiek, tegniek en verfynde vaardighede is dit die spanne met die beste dissipline, beste afrigting en beste samespel en organisasie wat die pyp rook. Kyk maar hoe flouerig het van die grootste Afrika-name in Europese sokker in die Nasiebeker gespeel. En ek weet ons het die talent en vaardighede; nou moet ons net die ganse struktuur bymekaar bring. Namibië het natuurlik ’n gebrek aan geld en infrastruktuur, maar met motivering en toewyding kan ons dit ver bring.”
Die uitgeslape afrigter het elke wedstryd van die Nasiebekerreeks op band vasgelê en sal dit as ontledingsmateriaal gebruik vir sy opmars na 2012. Een ding is verseker: Tom Saintfiet het groot planne met die Brave Warriors. Volgens hom is dit almal uitvoerbare planne met gewaarborgde positiewe resultate vir sokker in die land.