
Twee vir my! Die vasskopstut Hauta Veii van Western Suburbs druk een van sy twee drieë in Saterdagmiddag se kragmeting wat sy span met 26-9 teen Mariental gewen het.
VIER drieë was Saterdagmiddag die spreekwoordelike goue ganseiers vir Western Suburbs toe hy vir Mariental met 26-9 in die Hoenderhok van die tuisspan oorrompel het. Met die stroopsoet oorwinning het FNB Western Suburbs nie net die stoutste verwagtinge oortref nie, maar ook volpunte verdien om oor twee naweke ‘n afspraak met Wanderers in een van die halfeindstyde van die MTC Premierliga te verseker.
Dit het Suburbs vermag met ‘n spanpoging soos lanklaas gesien is en ‘n verwoeste aanslag in die tweede helfte nadat hulle rustyd met net 12-9 voor was en dit gelyk het asof die skaal nog in enige span se guns kon swaai.
Vir Mariental was dit die einde van punte aanteken en in ‘n droë tweede helfte moes hulle toekyk hoe die besoekers uit Windhoek die onbetwiste wenners van die veel besproke kragmeting was. En net om hul vasberadenheid te bewys het hulle as nie-gunstelinge nog in die 79ste minuut met ‘n juweeldrie deur Ethan van Rooi die spyker in die tuisspan se doodskis geslaan.

Ethan van Rooi wat as plaasvervanger slot ‘n drie gedruk het wat nog vir lank op Mariental onthou sal word.
Die lenige, veelsydige speler het in die 70ste minuut as plaasvervanger slot opgedraf en die oë laat rek toe hy met ‘n verbysterende lopie van sowat 75 meter vanaf sy eie kwartlyn bewys het hy is eintlik ‘n vleuel.
Hy het die bal van kaptein en losskakel Godwin Walters ná ‘n afskop vanaf die 25 meter merk ontvang, met ‘n allemintige systap en ‘n kragtige aftrap vorendag gekom, toe sy ore (en lang bos hare) platgetrek en doellyn toe genael vir die drie van die dag en heel moontlik een van die reeks.
Suburbs se doelgerigtheid was duidelik na ‘n skrale sewe minute al op die telbord na ‘n drie deur die kranige vasskopstut, Hauta Veii en ‘n geslaagde doelskop deur skrumskakel Alonso Julius.
Toe het die heelagter van Mariental Fabian “Vye” Routh die gaping laat krimp met twee geslaagde strafskoppe en die telling was 7-6 in die Windhoekers se guns. Kort daarna het Mariental vir die eerste en laaste keer die voortou geneem toe Vye weer die bal deur die pale geklits het vir sy derde strafskop.
Western Suburbs het ‘n minuut voor rustyd die skrif aan die muur geplaas deur met net veertien man op die veld te gaan druk. Die drie het behoort aan die Welwitschia-staatmaker, Darryl de la Harpe, wat op senter deurgesny het in die middelveld en vyf punte bygevoeg het. Julius se doelskop was mis en die telbord het met rustyd op 12-9 gestaan.
In die tweede helfte was daar net een span op die veld. Suburbs het die bal in elke gaping ingedra, skitterend verdedig as Mariental ‘n bres geslaan het en is ryklik beloon met nog twee drieë. Veii het die telling verder laat rek toe hy na ‘n losgemaal naby die doellyn van Mariental in ‘n bondel saam met sy spanmaats oorgeval het.
Hierdie keer was die doelskopper heelagter Shaun Kaizembi en die telling het op 19-9 gestaan. In ‘n middag waar dinge maar net die reg wou verloop vir die Marientallers nie, was die plaaslike held, Vye, se kansie vir ‘n drie ook daarmee heen toe hy ‘n tikskoppie geloods het en self opgevolg het met ‘n bal wat voor die doellyn verkeerd gespring het vir hom.
Suburbs se regtervleuel Brian Haihambo was eerste daar om dood te druk. Toe die skaduwees lank begin trek, was dit tyd vir die onvergeetlike drie van Ethan Van Rooi en die akkurate skopskoen van Kaizembi.
Dit was ook die slotsom in ‘n baie suksesvolle uitstappie vir die groen-en-wit streeptruie van Khomasdal wat met die uithaler vertoning hul kritici se monde gesnoer het en bo-verwagting deurgedring het halfeindstryde toe. Na die kragmeting het Republikein met Darryl de la Harpe gesels oor Suburbs se oorwinning.
“Ek glo dit is die een hekkie wat ons met groot verwagtinge oorgespring het en bewys het dat Western Suburbs een van die grotes in Namibiese rugby is. Die manne het uithaler rugby gespeel veral die vaste vyf het geskitter.”
Die tegniese bestuurslede van Suburbs het breed geglimlag na die sege oor Mariental. Hulle het aan die koerant gesê dat die vrugte van sukses gepluk is danksy goeie samewerking tussen afrigters en spelers wat op die oefenveld oortyd moes werk vir die stryd teen Mariental. Oor die drie wat deur die jeugdige Ethan van Rooi in die doodsnikke gedruk is was hul woorde.
“Dit was ongelooflik. Ethan is ‘n stukkie dinamiet wat wag om op plaaslike rugbyvelde te ontplof.”