3.12.2008

Boksers veg om drie nasionale titels


Die boksknoper Nestor “Sunshine” Tobias (middel) met die twee boksers Joseph “Smokey” Hilongwa (links) en Abmerk Shidjuu wat volgende week vuiste swaai vir die nasionale titel.
BOKSLIEFHEBBERS skuif reg vir aksie wanneer vir die eerste keer drie nasionale titelgevegte op een aand aangebied word danksy die Nestor Tobias Sunshine Boks- en Fiksheidsakademie en verskeie borge. Die plek is die Windhoek Buitekluboord, die datum is 11 Desember en die koste om Namibië se voorste boksers in die bokskryt te sien, is ’n skamele N$100.

Teen dié prys behoort die Windhoek Buitekluboord weer uit sy nate te bars. Boks tel beslis onder die land se voorste sportkodes wat prestasies betref. Paulus ‘Ali’ Nuumbembe is onlangs in ’n wêreldtitelgeveg in Suid-Afrika in die sewende ronde uitgeslaan, maar is nie verneder nie. Hy was ook die Pan-Afrika kampioen en gewese Statebondkampioen.

Op 3 Januarie wag die heel grote wanneer Paulus ‘The Hitman’ Moses in Tokio die Japannese wêreldkampioen aandurf. Plaaslike boksbeamptes en boksers kan hulself ’n klop op die skouer gee vir al die toekennings wat hulle losgeslaan het. Op 11 Desember kan die bloed vloei, want geen genade word verwag wanneer drie nasionale titels op die spel is nie. In die vlieggewigafdeling word ’n titaniese stryd verwag wanneer Abmerk Shidjuu sy gordel teen Joseph “Smokey” Hilongwa verdedig.

Shidjuu is ’n kortkop gunsteling om die geveg te swaai en sy aantal oorwinnings na vyf op te skuif. Hy het een nederlaag en twee gelykopuitslae. Die man is rateltaai en het baie mense oortuig dat hy dit nog verder in die beroepskryt kan bring. Smokey sal hom egter deeglik toets. Dié jongman het drie gevegte agter die blad en het almal gewen.

Joseph Hilongwa wil aan die nasie bewys dat hy die volgende hoop is waarop Namibiërs hul geld moet wed. In nog ’n geveg sal Jatoora Tjingaveta teen Peter Malakia vuiste swaai. Tjingaveta het nege oorwinnings en twee nederlae op sy kerfstok, terwyl Malakia vyf keer gewen het en vier keer die knie moes buig. Hiervolgens behoort Jatoora die nasionale titel agter sy naam te skryf, maar in die bokskryt gebeur vreemde dinge.

Een gelukkige hou, en die voorloper word die verloorder, soos onlangs waar ‘Ali’ Nuumbembe met punte voor was, toe die Suid-Afrikaner met ’n uitkophou tref en dis verby met Nuumbembe. Die groot geveg van die aand is Betuel “Tyson” Uushona teen Tommy Hango van Oranjemund. Hier gaan die hare waai.

Tyson is onoorwonne en is ook die enigste Namibiër wat daarin kon slaag om Nuumbembe te klop. Hy is die oorweldigende gunsteling om sy nasionale weltergewigtitel te behou. Dit sal egter ’n groot fout wees om Hango te onderskat.

Die diamant van Oranjemund het in elf gevegte net een keer verloor. Hy is beweeglik, kan hard slaan en kan ’n hou vat. Hy is ’n taai bokser wat vir Tyson behoorlik gaan toets. Tyson is ’n stylvolle bokser en met ’n trotse rekord van 15 uit 15 borrel hy met selfvertroue.