
Die beeldskones en die blitsige boksers. Nomvula Mapolombo (links) en Hellen Iilinge (regs), twee ronde-aanwysers by 20 Maart se vuurwarm boksaand, het nie gister kant gekies nie in die komende geveg tussen Tyson Uushona en Tommy Hango.
’n OPWINDENDE bokstoernooi van Nestor Tobias se Sunshine Akademie word weer op 20 Maart ter viering van Namibië se 20 jaar van onafhanklikheid by die Windhoek Buitekluboord afgewag. In die volgestopte program met nege watertandgevegte gaan die hare behoorlik waai wanneer twee onoorwonne Namibiese boksers saam met hul landgenote mekaar en ’n paar buitelanders gaan aandurf.
Hoewel dit nie die hoofgeveg van die aand is nie, is die tonge sedert gister aan die klap toe Tobias bekend gemaak het dat die rateltaai Vikapita “Beastmaster” Meroro in die ligswaarafdeling teen een van die moeilikste kalante op die vasteland te staan sal kom.

Sacky "Izinyoka" Shikukutu.
Sy naam is Douglas Otienie van Kenia, die einste man teen wie die voormalige Namibiese wêreldkampioen, Harry Simon, sowat twee weke gelede veronderstel was om te staan te kom. Otienie en Meroro is beide nog net een keer in hul beroepsloopbane geklop en beide sal verbete veg om hul puik boksrekords skoon te hou. Meroro was in 18 gevegte 17 keer die wenner, terwyl Otienie in sy 13 gevegte 12 keer geseëvier het.
Die hoofgeveg gryp ook die verbeelding van Namibiërs aan. Twee van die land se bestes, Betuel “Tyson” Uushona en Tommy Hango, gaan bepaal aan wie die vakante WBA/WBO Afrika-weltergewigtitel behoort. Hulle sal mekaar genadeloos jag oor 12 rondes om die tere sakie te besleg. Uushona is ’n indrukwekkende bokser wat nog nooit ’n nederlaag in sy 19 gevegte in die beroepskryt gesmaak het nie.
Hango is aansienlik minder ervare met elf gevegte waarvan hy nege gewen en twee verloor het. Hierdie is nie verniet die hoofgeveg nie en Namibiërs kan verseker wees van uithalerboks. Vele oë is ook weer gerig op Paulus “The Rock” Ambunda wat in sy nege beroepsgevegte klokslag koning gekraai het.

Vikapita "Beastmaster" Meroro.
Hy sal teen die onbekende Sithembele Kibiti van Suid-Afrika oor 12 rondes in die kapokgewigafdeling die vuiste laat klap. Sy teenstander is ’n baie meer ervare man met 21 beroepsgevegte agter die rug waarvan hy 17 gewen en vier verloor het. Die mannetjies in die afdeling mag dalk klein wees, maar hul spoed en vernuf sorg gewoonlik vir ’n regte kapokhaan-geveg en op 20 Maart sal dit weer so wees.
Namibië se Sacky “Izinyoka” Shikukutu gaan vir ’n maksimum ses rondes in aksie wees as junior weltergewig teen Bhekimpilo Mlilo van Zimbabwe, maar hy is op ’n missie om te bewys dat sy enigste nederlaag in die beroepskryt net ’n glips was. Hy het 12 taai gevegte agter die rug en sy teenstander sewe waarvan hy vyf gewen en twee verloor het.
In ’n junior liggewiggeveg vir die Namibiese titel sal Abraham Ndaendapo teen sy landgenoot Gottliep Ndokosho in tien rondes sake uitspook. Ndaendapo het in nege gevegte sewe keer gewen, een keer verloor en een keer gelykop geboks. Sy teenstander het in elf gevegte agt keer gewen, twee keer gelykop geboks en een keer verloor. Samuel Kapaku van Namibië en Peter Malakia van Suid-Afrika kan as liggewigte oor ses rondes ook vir lekker aksie sorg.
Kapaku het in sy agt gevegte twee keer slae gekry, terwyl Malakia in tien gevegte net vier keer gewen en ses keer verloor het. In nog ’n kapokgewiggeveg oor vier rondes sal Immanuel Naindjala van Namibië teen Mxolisi Nombewu van Suid-Afrika deur die toue klim. Die liggewigte Julius Indongo en Festus Nghidinwa sal mekaar oor vier rondes pak. Laasgenoemde sal in sy debuutgeveg graag wil wys hoekom hy voor sy beroepsdae twee keer ’n nasionale kampioen was, terwyl Indongo sal wil onderstreep dat sy drie oorwinnings in drie gevegte in die beroepskryt nie net ’n gelukskoot was nie.
By gister se mediabyeenkoms in Windhoek was boksers taamik vol van hulself en het openlik gespog oor hoe die een die ander gaan ondersit. Tyson Uushona het gesê hy is nie verniet onoorwonne nie en hy gaan sy baasskap duidelik onderstreep.
“Ek het die afgelope tyd baie opgeoffer en van nou af is boks die enigste ware liefde in my lewe.” Tommy is ’n man doer uit Oranjemund en het belowe hy gaan so blink skitter soos die geslypte diamante en nie vir ’n tweede keer dieselfde fout teen dieselfde teenstander maak nie.
Meroro, The Beast, het gesê hy kan nie wag om die vakante WBOligswaargordel om sy middel vas te bind nie. “Dit kan een van my moeilikste gevegte wees, maar ek belowe my aanhangers dat ek ook my heel beste vertoning sal lewer.”