Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

13.01.2009

Beukes se wenperd in Maun

© Verskaf
Daniel Beukes en Thomas spog met die wentrofee wat hulle by die hoofwedren in Botswana gewen het.
NAMIBIESE sport ry tans op die kruin van die golf met verskeie oorwinnings in die buiteland. Die bokser Paulus Moses en die perderuiter Michelle Künzle is albei nuwe wêreldkampioene en ’n aansporing vir die res van die sportgemeenskap. Perderesies het ook nou ’n deurbraak gemaak toe ’n plaaslike perde-eienaar en sy jokkie die nommer een plek tydens die hoofwedren in Botswana behaal het.

Daniel Beukes, trotse baas van Spanish Richman, en sy jokkie het eerste oor die wenstreep gejaag by die onlangse internasionale perderesies by die Gabotshe resiesbaan in Maun, Botswana. Dit is die heel eerste keer dat ’n Namibiese perd die resies oor 1200 meter wen. Spanish Richman het behoorlik stof in die oë van sy teenstanders geskop en die meer as 4 000 toeskouers op hul voete gebring met sy pragtige hardloopstyl.

© Verskaf
Spanish Richman (regs) en sy jokkie Thomas hol oor die wenstreep tydens die hoofwedren in Botswana. Links hardloop die Suid-Afrikaanse perd, Casual Harry met Richard op sy rug.
Die spogperd en sy erkende joggie Thomas het die Philip Wright-trofee ingeoes en in die proses ook ’n paar Suid-Afrikaners op hul neuse laat kyk. Spanish Richman het verlede jaar in November ook die Kampioen van Kampioene trofee asook die July Handicap in Windhoek gewen.

Die reunperd se prestasie maak hom gewild en mense wil hom in aksie sien. Beukes het aan Republikein gesê: “Die wedrenne by die Gabotshe perderesiesbaan was ’n deurbraak vir die sport in Namibië. Ek glo ons sal weer genooi word om in Botswana deel te neem. Ek is oortuig dat ander perde en eienaars in Namibië ook graag hul spoed buite die landsgrense wil meet.

“Ek was aangenaam verras met die puik organisering en goeie gesindheid van die mense in Botswana. Perdesport is gewild en daar word elke maand kompetisies gehou wat deur duisende toeskouers ondersteun word. Maatskappye lewer graag insette en het selfs ’n aanbod gemaak wat ons weer na die uithoeke van Botswana lok.

“Ons is ook gevra om ’n paar perde saam te bring wat die mense in Botswana graag wil koop. Daar is idees geruil hoe die sportsoort op alle vlakke verbeter kan word, en hoe borge genader moet word om geld te belê. Dit maak ’n ou se hart bly om die opgewonde toeskouers langs die kantlyn te sien asook die baie belangstelling van perde-eienaars en jokkies in Suid-Afrika.

Die potensiaal in Botswana is enorm. Om sukses te behaal, moet daar saamgewerk word aan die bemarking en bevordering van plaaslike perdesport. Dit is lankal tyd dat strydbyle begrawe word en dat ons koppe bymekaar sit om perdesport weer op dreef te kry. ”

Beukes het ook twee ander perde, Young Sid en Irish Assembly, oor die grense van Namibië gevat om mee te ding in die Nuwejaar perdekampioenskap in Maun. Young Sid en Irish Assembly het onderskeidelik tweede en derde plekke in die 1600 m los gehol.

In die 2000 m het Spanish Richman silwer ontvang en Young Sid ’n brons – beide met vreemde jokkies op hul rûe. “Vir my is die oorwinning ’n deurbraak soos min, want ek probeer die afgelope tien jaar om sukses buite die grense van Namibië te behaal. Die pa van Spanish Richman is Richman’s Gold van Nieu-Seeland en die ma is Spanish Quest van Ierland.”