16.05.2008
Bank staan agter junior krieketspan
STANDARD Bank het sy vennootskap met Namibiese krieket verder uitgebrei met ‘n borgskap vir die nasionale onder 15-span wat môre teen Zambië ‘n eendagwedstryd speel. Die spelers kry uitrusting vir die Afrikabekerwedstryd.
Standard Bank en die Namibiese Krieketraad is al vir jare vennote in die ontwikkeling van die sport. Die bank wat ook in Suid-Afrika bekend is as die krieketbank het die afgelope drie jaar N$100 000 aan die NKR vir ontwikkeling beskikbaar gestel.
Die president van die NKR, mnr. Francois Erasmus, het by die oorhandiging gesê die vrugte van die ontwikkelingsprogram word reeds gepluk. Hy het uitgewys dat van Namibië se junior spelers reeds deur die ontwikkelingsprogram gevorder en Namibië internasionaal verteenwoordig het.
Mnr. Jaco Burger van Standard Bank het gesê die vennootskap tussen die bank en die NKR speel ‘n belangrike rol in die samelewing. Hy het gesê sportontwikkeling loop hand aan hand met sosiale ontwikkeling en dat sport ook nasietrots teweeg bring.
Hy het die jong Namibiërs sterkte toegewens vir die wedstryd teen Zambië. Die nasionale onder 15-span speel môre vanaf 09:00 op die Wanderersveld en Sondag speel die onder 15 naasbestes ook ‘n 40-beurtwedstryd teen die besoekers.