2.09.2010 Bank se liga baat vroue
 Jong vrouekrieketspelers saam met me. Marlize Horn van Bank Windhoek en mnr. Francois Erasmus, president van Krieket Namibië, tydens gister se aankondiging van die bank se borgskap van N$90 000 vir die nasionale vroueliga.
VROUEKRIEKET het gister ’n daadwerklike hupstoot gekry toe ’n nasionale liga vir die eerste keer in die lewe geroep is. Ses spanne sal in die liga meeding met Bank Windhoek wat as hoofborg met N$90 000 help verseker dat die liga vlot verloop.
Die liga begin reeds voor die einde van vandeesmaand en die ses spanne wat ingeskryf het, is die Laerskool Moria, Tsumeb Gimnasium, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Windhoek Gimnasium en Pro-Ed. Hoewel almal skolespanne is, is dit ’n volwaardige vroueliga, met geen ouderdomsbeperking nie.
Intussen sal die liga ’n belangrike rol speel in die voorbereiding van die Namibiese span wat hopelik in Kenia aan die kwalifiserende toernooi vir die Wêreldbeker-vrouetoernooi sal gaan deelneem. Die gewese Namibiese krieketspeler Ian van Schoor was die afgelope maande sentraal in die afrigting van vrouekrieket en het reeds ’n goeie dosis sukses behaal.
Toe ’n Namibiese meisiespan onlangs op kort kennisgewing na ’n provinsiale toernooi in Suid-Afrika genooi is, het die span aanvanklik ’n paar stewige dragte slae op die lyf geloop voordat hulle hul voete gevind en met oorwinnings oor gerekende spanne soos Noord-Gauteng en Griekwas gewys het wat hulle kan doen.
By gister se bekendmaking van die bank se borgskap het die president van Krieket Namibië, mnr. Francois Erasmus, sowel as me. Marlize Horn van Bank Windhoek verklaar dat beide partye ’n langtermyn-uitkyk en verbintenis tot vrouekrieket het.
“Ons is vol vertroue dat die Bank Windhoek vrouekrieketliga nuwe geleenthede vir huidige én aspirerende spelers sal skep om te streef om hul volle potensiaal te bereik. Ons hoop vir meer kompeterende ligawedstryde wat as voorbereiding vir internasionale deelname kan dien,” het me. Horn gesê.
“Die bank glo dat enige sport sy deelnemers gesonder, meer gedissiplineerd en beter spanspelers maak. Krieket bied ook sulke positiewe eienskappe vir persoonlike groei wat in die daaglikse lewe handig te pas kom.
“Wêreldwyd is sportkodes aktief besig om vroue te betrek – nie net as spelers nie, maar ook afrigters, tellinghouers, skeidsregters en toeskouers. Krieket is geen uitsondering nie en vrouekrieket is inderdaad ’n snel groeiende sportkode.”
Mnr. Erasmus het uitgewys dat tydens ’n opname by skole verlede jaar bevind is dat nagenoeg 745 meisies minikrieket speel en dat sowat 38 by junior krieket betrokke is.
|