24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

2.03.2010

Bakoond wag op Namibiese rugby

© Boet Matthews
Namibië se stut Johnny Redelinghuys en vleuel Llewellyn Winckler op die aanval teen die Griffons.

NAMIBIË het ná nege seisoene sy terugkeer tot die Vodacombekerreeks in Suid-Afrika afgeskop soos hy die laaste keer geëindig het; met ’n nederlaag teen die Griffons.

Saterdag het die Welwitschias hul eerste kennismaking gehad met ’n loesing van 45-26 teen die Noord-Vrystaters, verlede jaar se semifinaliste van die Curriebeker Eersteliga.

Die kompetisie is taai en vir enige span wat sy merk wil maak, is dit noodsaaklik om sy tuiswedstryde te wen. Komende Vrydagaand kan die Welwitschias teen die Luiperds op Potchefstroom opnuut ’n moeilike wedstryd verwag.

Die Luiperds was afgelope naweek ’n handvol voordat die Leeus hulle in die Johannesburg-stadion met 27–22 ondergekry het. Veral hul blitsige heelagter Jan van Zyl, wat twee drieë gedruk het, was ’n uitblinker in die Luiperds se hardnekkige terugvegpoging vanaf ’n 27-10 agterstand.

Namibië se wankelrige rekord in die Vodacombekers van 2001, 2000 en 1999, waarin die span net een wedstryd kon wen en een gelykop speel, wys wat ’n prestasie dit sal wees indien die Welwitschias in dié reeks ’n skok kan lewer.

Namibië het telkens swaar getrek teen die buurland se ontluikende professionele spanne. Trouens, in 2001 is twee honderdtalle teen hulle opgestapel.

Dit was teen die Oostelike Provinsie in Port Elizabeth (110- 17) en die Leeus in Johannesburg (101- 20). In daardie jaar was Namibië se beste pogings in twee tuisnederlae in Windhoek, met 10-36 teen die Griffons en met 13-39 teen die Natal Wildebeeste.

Dit was toe ook nie verbasend dat Namibië hom aan die tweede rondte van die kompetisie vir die onderste ses spanne onttrek het nie. In 2000 het Namibië ook nie een van sy sewe wedstryde gewen nie.

Inteendeel, hulle het toe gemiddeld 60 punte per wedstryd afgestaan. Die enigste keer wat Namibië ’n Vodacombeker- wedstryd kon wen, was in die Wêreldbekerjaar 1999 onder afrigterskap van Johan Venter. Namibië het 14 wedstryde gespeel, een gewen en in een gelykop gespeel. Saterdag het Namibië opnuut beleef dat die reeks straf is toe die Griffons hulle met 45-26 geklop het.

Dit sal onregverdig wees om die span af te skiet op grond van hul vertoning, want dit was maar hul tweede wedstryd vanjaar. Samespel was dus nog ’n kopseer en onnodige foute het ’n duur tol geëis.

Dis nog vroeg in die reeks en die Namibiërs kan van hul tekortkominge uitstryk. Daar is nog ruimte om in die komende weke versterkings aan afrigter Johan Diergaardt se oefengroep aan te bring. Wanneer die glibberige senter David Philander terugkeer ná sy dyspierbesering, kan hy ’n belangrike rol speel.

Die paar nuwelinge wat Saterdag teen die Griffons opgedraf het, kan trots wees hul vertoning en dit as aansporing neem vir komende wedstryde. Vir ’n span wat so min en ongereeld saam speel as Namibië, bly samespel altyd ’n kopseer.

Juis daarom is die Vodacom-reeks so belangrik vir die plaaslike amateurspelers en hopelik sal die kombinasies mekaar algaande behoorlik vind. Die potensiaal is daar; dis net skaafwerk wat kort.

Veral met die oog op deelname aan die Wêreldbeker aanstaande jaar in Nieu-Seeland is die kompetisie uitstekende voorbereiding vir Namibië om sy ontluikende spelerstalent nie net in tuiswedstryde te beproef nie, maar ook in vreemde omstandighede.

Aanval is dalk die beste manier van verdediging, maar Namibië se gebreke op verdediging is ook uitgewys en dié aspek sal ook aandag moet kry.