16.05.2008
BA kan nie glips bekostig
FEDICS United sal môreaand met groot vertroue in die Khomasdalstadion teen Black Africa uitdraf waar hulle gaan poog om vir die derde keer dié seisoen aan die wenkant te eindig. Fedics het verlede naweek sy tweede oorwinning in MTC se premierliga behaal en daarmee het die ligte begin flikker dat die Keetmanshopers dalk hul eerste seisoen in topgeselskap kan oorleef.
Die spanning is ewe hoog by spanne onderaan die punteleer om nie gerelegeer te word nie, as by die voorlopers wat sweet om die prysgeld van N$500 000 en die MTCligatrofee. Fedics het teen Mighty Gunners gewen, terwyl Blue Waters sy buurman Bizhub Eleven Arrows geklop het.
Ewe skielik het die Bloues ook hoop om oorlewing in die premierliga. Daar is net twee punte verskil tussen hulle en Mighty Gunners, die einste kombinasie teen wie hulle Sondag in die Kuisebmondstadion op Walvisbaai speel. Dit gaan ‘n riller wees. Hier word gevra dat bevoegde en eerlike skeidsregters in beheer geplaas word.
Die uitslag van die naelbyter is belangrik vir albei spanne. As Mighty Gunners wen, is hulle vyf punte voor Blue Waters; wen die Bloues, skuif hulle een plek bo die Gunners. Sou die twee gelykop speel en Fedics verras in Khomasdal teen Black Africa, is die uurglas besig om vinnig uit te loop vir twee spanne om gerelegeer te word.
Fedics sal sy spelpeil aansienlik moet lig as hy die brul van Black Africa wil stilmaak. Die Leeus het nog ‘n sterk kans om die ligatitel omhoog te hou. Dit is een toekenning wat hulle graag wil wen en mense oortuig dat hulle nie net uitklopkonings is nie. Die ligatrofee is erkenning vir bestendigheid en diepte. Verskeie wedstryde vind Sondag plaas.
Die voorlopers Oshikandela Ramblers kom teen Tigers te staan. Dit is amper soos ‘n derby – met al die spelers wat van Tigers na Rammies oorgestap het, behoort dit ‘n interessante stryd te wees. In die Noorde kom Oshakati City teen Eleven Arrows te staan. Dit kan ‘n lang donker pad terug na Walvisbaai wees as Arrows sou vasval.
Orlando Pirates is goed op dreef en speel die sokker wat mense na stadions lok. Die Seerowers beklee die tweede plek op die punteleer en behoort net te veel skietgoed vir Cymot SKW te hê. Laasgenoemde span speel op sy tuisveld, maar as die vertoning van sy spelers die afgelope weke in ag geneem word, veral in die voorry waar doele opgedroog het, moet Pirates die gunsteling wees.
Die verdedigende kampioen, Buschschule Civics, speel teen African Stars in die Khomasdalstadion. Die wedstryde in Windhoek is geskeduleer vir 15:00, terwyl die twee op Walvisbaai en Oshakati beide om 14:00 afskop.