24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.02.2012

Afrika wag in spanning

DIT is reg of weg vir die vier oorblywende spanne by die Afrika Nasiebeker sokkertoernooi in Ekwatoriaal-Guinee en Gaboen wat mekaar vanaand in die halfeindstryde ontmoet.
Sokkerliefhebbers in Suidelike Afrika staan bankvas agter Zambië se Chipolopolo wat die hoop van die substreek dra om weer sukses by die kompetisie te behaal.

Sou die buurland vanaand die kaarte van die beroepswedders se gunsteling Ghana deurmekaar krap, sal daar feesgevier word tot die eindstryd Sondag om 21:00 begin. En moontlik selfs daarna.
Om die eindstryd te haal, is nou egter die belangrikste prioriteit, want ’n neerlaag in die semifinaal is ’n baie bitter pil om af te sluk.

Mense onthou gewoonlik die twee finaliste, maar selde die verloorders in die halfeindstryde.
Ghana is desperaat om vanjaar die Afrika Nasiebeker omhoog te hou, veral nadat die Black Stars in 2010 in Angola die knie in die eindstryd teen Egipte moes buig.

In die kamp van Zambië word die kragmeting teen Ghana as ’n uitdaging soos min beskou. Die beamptes en spelers van Chipolopolo glo dat Ghana met sy groot name onder meer druk sal wees wanneer die fluitjie blaas vir die afskop in die De Bata-stadion.

Doelwagter Kennedy Mweene dra die hoop van Zambië teen die Wes-Afrika se gedugte aanvallers soos Asamoah Gyan, Andre Ayew en Sulley Muntari.
Zambiese ondersteuners hou duim vas dat Chipolopolo daardie volgende stappie vorder, veral ter nagedagtenis van die talentvolle groep Copper Bullets wat in 1993 in ’n vliegramp naby die Gaboense kus met al 30 mense aan boord omgekom het.

In die ander semifinaal is Ivoorkus die oorweldigende gunsteling om aan die wenkant te eindig, veral met die Olifante se kaptein, Didier Drogba, wat met tye weer onstuitbaar voor die doelhok lyk.

Die tweestryd tussen Drogba en Mali se hardnekkige verdediger Cedric Kante kan vir ’n paar van vanaand se hoogtepunte sorg. Die 32-jarige Kante speel sedert 2009 vir Panathinaikos in die Griekse beroepsliga en is een van Mali se steunpilare. Hy het in die kwarteindronde teen Gaboen ’n strafskop met baie selfvertroue aangeteken.

Met ’n middelveldgeneraal soos Seydou Keita van die Spaanse kampioenspan Barcelona sal Mali gewis ’n handvol wees en mag nie vir ’n oomblik onderskat word nie. Vra maar vir Angola wat gebeur het toe hy as gasheer in die toernooi met 4-0 voor was met net 15 minute oor voordat Mali die eindtelling op 4-4 laat eindig het.

Die afskoptye vir vanaand se wedstryde is: Zambië tn Ghana 18:00; Mali tn Ivoorkus 21:00.