"Stop die Koperfees"

Jan Nel skryf:Die jaarlikse ?Koperfees? het gister ten einde geloop en dit was verseker die ergste en afstootlikste ooit!

Ek glo dat die persone wat met die gedagte vorendag gekom het, edel in hul bedoelens was en die wel en wee van Tsumeb vooropgestel het. Dit waarin dit nou ontaard het, ?n openbare suipery en brassery en let wel, met die goedkeuring van die plaaslike owerheid, is daarvan sovȇr verwyder as die Ooste van die Weste of die dag van die nag. Die munisipaliteit het met groot vertoon berig dat minder drinkplekke (lees hier suipplekke) as die vorige jaar goedgekeur is. Wat gebeur toe? Die drinkplekke is toe tweekeer groter as die vorige jaar gemaak en baie meer van Bacchus se vog het gevloei. Vir hierdie mense het dit suiwer gegaan oor hoeveel geld hulle kon maak en het hulle nie geskroom om openlik drank aan ooglopende minderjariges te verkoop nie. Openbare drankvergrype was aan die orde van die dag. Geen wonder dat heelwat ?feesgangers? nog die volgende oggende op straat gelê het en hul roes uitgeslaap het nie. Geen wonder dat ?n paar mense se heinings deur dronk ?voertuie? verwoes is nie. Wie wil my wed dat daar aanstaande jaar Julie nie ?n redelike aanwas in Tsumeb se bevolking gaan wees nie?

Aan al die borge van hierdie jaarlikse orgie vra ek net, het julle nie iets beters om met julle geld aan te vang nie, of dink julle dat die deursnit gemiddelde inwoners van Tsumeb dink dat julle ook die wel en wee van Tsumeb op die hart dra?

Ek moet sê, ek sien nogal uit na die amptelike oorsig van die gebeure. Natuurlik sal mos beklemtoon word van hoeveel uitstallers van die buiteland hier was. Die res sal, soos gewoonlik, maar onder die mat gevee word, want wie sal dan nou wil erken dat hy/sy bygedra het tot hierdie gemors?

Ten laaste. Ek rig ?n uitdaging aan die opvolger van onse engeltjie Nawatiseb om aanstaande jaar geen, maar geen dranklisensies vir die geleentheid toe te staan nie. Dalk het ons dan weer ?n ware koperfees en nie ?n openbare drankfees nie.