26.09.2008 Veiligheid kom eerste
SKOUGANGERS kan gerus wees dat die reëlings vir hul veiligheid tydens die skou as ’n belangrike prioriteit gehanteer word, en alles moontlik word gedoen om te verseker dat die skou se goeie aansien in terme van veiligheid en sekuriteit behoue bly.
Ten einde veiligheid te verseker, werk veiligheidsbeamptes op die terrein se omliggende strate en die toegange. Boonop het die skouvereniging ‘n private sekuriteitsfirma gehuur wat verantwoordelik is vir die toepassing van vasgestelde reëls wat op die veiligheid van besoekers toegespits is. Tog maan die organiseerders besoekers om die volgende in gedagte te hou:
Om diefstal van 'n beursie te verhoed:
• Dra jou beursie aan jou lyf. Wanneer jy ’n handsak dra, plaas die skouerband dwars oor jou liggaam en hou dit styf vas.
• Vermy die rugsak-tipe beursie. Dit kan maklik gesny word en is dus ’n maklike teiken vir diewe.
• “Moonbags” is ’n goeie en veilige keuse. Dit word na aan die lyf gedra en maak dit moeiliker om te gryp.
• Wees altyd bewus van jou omgewing. Wees veral waaksaam in parkeerterreine en in die sale.
• Los liefs waardevolle items tuis en moet ook nie groot hoeveelhede kontant saambring nie. Bewaar jou OTM-kaart en geheime nommers apart.
Om diefstal te verhoed:
• Word onmiddellik sekuriteitsbewus!
• Wees waaksaam vir enige verdagte persoon;
• Kyk wat die verdagte doen en of daar meer as een vermeende dief is. Die skoukomitee raai almal ook aan om versigtig te wees met selfone en dit nie onbewaak te laat nie.
|