24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Erongo


Kollig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

13.06.2011

Toerisme Expo weer ’n sukses

© Augetto Graig
Vanjaar se Namibië Toerisme Expo het opnuut alle verwagtinge oortref en besoekers met nuwighede verras. Old Mutual, wat vanjaar vir die eerste keer by die Expo uitgestal het, het Donderdagaand besoekers getrakteer op wat sover bekend die eerste blitsskare (“flash mob”) vertoning ooit in die land was. Personeel van Old Mutual het ongesiens by ’n sekere punt op die skougronde vergader en omstreeks 17:30 truie en baadjies laat waai en in die kenmerkende groen drag van Old Mutual gesinchroniseerde danspassies uitgehaal.

ONDANKS snerpende koue wat aan die begin van die Namibië Toerisme Expo ondervind is, het ’n rekordaantal besoekers vanjaar deur die hekke gestroom. Altesaam 18 985 besoekers het oor die vier dae wat die Expo geduur het, die toonvenster van die toerismebedryf besoek.

Dit is effens meer as die 18 798 besoekers van verlede jaar. Volgens die organiseerders het die snerpende koue temperature meegebring dat besoekersgetalle Woensdag en Donderdag laer was as op die ooreenstemmende dae in 2010.

Vrydag en Saterdag het die getalle egter aansienlik geklim met Vrydag se rekordtal van 6 768 besoekers teenoor die 6 429 van verlede jaar en 6 432 besoekers op Saterdag teenoor die 4 230 van die vorige jaar.

Met meer toekennings as ooit tevore wat aan uitstallers oorhandig is, is vanjaar se Namibië Toerisme Expo deur die organiseerders en uitstallers as baie geslaagd beskou. Altesame 20 platinumtoekennings is aan uitstallers in 16 kategorieë uitgedeel, asook 38 goud, 31 silwer en 25 brons toekennings.

Daar was vanjaar ook drie bykomende kategorieë wat beoordeel is, naamlik higiëniese en skoonmaakprodukte, eko-voorsieners en voorsieners aan die jagbedryf. Hierdie dui op die Expo se voortdurende groei en die feit dat elke jaar innovering by die toonaangewende toerismeskou getoon word.

Een van die nuutjies wat baie aandag gelok het, was die boendoe- afdeling waar besoekers alles en nog wat oor die jag- en verwante bedryf kon besigtig.

’n Groot trekpleister was die meganiese bul, waar brawe skougangers hul uithouvermoë op die proef kon stel. Die wyn- en kosstalletjies het weer baie voete gelok en die Checkers Chefs Indaba was ’n hoogtepunt op die program.

Die Kulinêre en Organiese saal was ewe gewild onder besoekers. Nog ’n treffer was die Bank Windhoek-Republikein-motorskou waar die nuutste modelle op die mark besigtig kon word.

Met die uiters spesiale finansieringspakkette wat Bank Windhoek aan kopers gebied het wat gedurende die duur van die Expo ’n transaksie sluit, is die bank oorval met aansoeke om finansiering.

Die toerisme- en verwante uitstallings het ook baie aandag geniet met meeste uitstallers wat reeds te kenne gegee het dat hulle beslis weer hul produkte en dienste by volgende jaar se Expo sal vertoon.

Die skou het nie net vir die DMH-groep, die organiseerders van die Expo, pluimpies uit alle oorde besorg nie, maar die reaksie op Republikein se bekendstelling van die Bruidspaar van die Jaarkompetisie, was ook goed.