7.06.2010 Rekordgetal besoek Expo
 ’n Rekordgetal besoekers het vanjaar deur die hekke van die Namibië Tourism Expo gestroom terwyl Vrydag se 6 500 besoekers die meeste vir een dag was.
DERTIG persent meer besoekers het vanjaar deur die hekke van die jaarlikse Namibia Tourism Expo gestroom terwyl die Bank Windhoek-Republikein-motorskou as deel daarvan uiters suksesvol afgesluit het.
Vanjaar het besoekersgetalle aan die gewilde toerisme- en motorskou tot 18 798 gestyg in vergelyking met verlede jaar se 14 435 besoekers. Met die meer as 460 toerismeinstansies wat by die geleentheid verteenwoordig was en die heelwat meer besoekers wat dit gelok het, was vanjaar se Expo die grootste nóg.
Vrydag se rekordsyfer van byna 6 500 besoekers was sowat 2 000 meer as wat verlede jaar dieselfde tyd deur die hekke gekom het. Van die talle trekpleisters wat vanjaar gaste gelok het, was die Gourmet-saal beslis een van die hoogtepunte asook die Leo Kulinêre en Organiese saal wat ewe gewild onder besoekers was.
Benewens die geleentheid om Suid- Afrika en Namibië se bekendste sjefs te ontmoet en in aksie te sien, was nog ’n treffer die Bank Windhoek-Republikein-motorskou waar die nuutste modelle op die mark besigtig kon word.
Met die uiters spesiale finansieringspakkette wat Bank Windhoek aan kopers gebied het wat gedurende die duur van die Expo ’n transaksie sluit, is hulle oorval met aansoeke om finansiering.
Die uitvoerende beampte van Bank Windhoek se spesialis finansieringsafdeling, mnr. Chris Matthee, het Saterdagmiddag gesê die stroom aansoeke na hul kantoor op die perseel het sterk geloop en die verwagting is dat sake wat tydens die Expo gedoen is, alle vorige jare maklik kan oortref.
“Die algemene reaksie op die spesiale pakkette wat ons aan kopers gebied het, het die gewenste reaksie uitgelok. My span is volstoom besig om die aansoeke te verwerk en die verwagting is dat die grootste deel daarvan goedgekeur sal kan word. Die finale syfers van alle finanansieringsaansoeke wat goedgekeur is, sal uiteraard eers later die week bekend wees, maar ek kan met vertroue sê dat vanjaar se poging die grootste en suksesvolste motorskou nog was,” het hy gesê.
Bank Windhoek het verlede jaar altesaam 84 goedgekeurde finansieringsaansoeke vir nuwe voertuie tydens die Expo verwerk. Die toerisme- en verwante uitstallings het ook baie aandag geniet met meeste uitstallers wat reeds te kenne gegee het dat hulle beslis weer hul produkte en dienste by volgende jaar se Expo sal vertoon.
Die skou het nie net vir die DMH-groep, die organiseerders van die Expo, pluimpies uit alle oorde besorg nie, maar die reaksie op Republikein se eerste Expo foto-kompetisie waar ’n totaal van N$6 000 deur skougangers te wen was, was ook goed.
|