26.09.2008 Propvol program vir grootveeveiling
’n VOLGEPAKTE program in vanjaar se beesafdeling wat tydens die skou sal plaasvind, begin met die beoordeling van die slagosse Sondag en sluit Vrydag af met die skouveiling. Saterdag reeds kom die skoubeeste, onder meer ook die slagosse, aan, wat Sondag om 14:00 in die Agra-ring beoordeel sal word.
Om 17:00 dieselfde dag word die slagbeeste gelaai en na Meatco vervoer waar hulle die volgende dag geslag word. Die beoordelaars op die hoef is J.de Dager, K. Claassens en H. Kellerman, terwyl S. van Zyl en P. Maritz die osse aan die haak sal beoordeel. Die uitslae sal Maandag omstreeks 16:00 beskikbaar wees. Die res van die beeste wat vir die skou ingeskryf is, mag nie later nie as Sondag om 18:00 by die skouterrein aankom nie.
Inspeksie deur die bestuur en van die Suid-Afrikaanse beeste vind Saterdag en Sondag vanaf 09:00 plaas. Die eerste aktiwiteite van die grootvee begin op Maandag om 14:00 in Ring 2 wanneer die Afrigusse en Angusse beoordeel word. Die beoordelaars is S. von Lüttwitz, W. Grobler en A. de Koe. In Ring 3 sal die kindertouleiersklas om 14:00 plaasvind en die Brahmaangroepklasse begin om 16:30.
Dinsdag om 08:00 sal Oubaas van der Merwe die Afrikaners be- oordeel. Daarna sal M. Seyfferdt, D. Burger en A. Giani begin met die beoordeling van die Santa Gertrudis. In Ring 1 om 15:00 word die Dexters deur K. Lepen beoordeel.
Dieselfde dag om 08:00 in Ring 2 word die Simbras deur W. Grobler en L. Swart beoordeel, waarna die Charbray’s se beurt om 15:00 aanbreek. Die beoordelaar van die Charbray’s is B. Dorfling. In Ring 3 word die Brahmane om 08:00 (Dinsdag) tydens die Nasionale kampioenskappe deur T. Dicke en dr. T. Serfontein beoordeel.
Woensdag in Ring 1 word die Herefords en Brangusse van 08:00 beoordeel. Die beoordelaars vir die twee rasse is onderskeidelik L. Swart en dr. Lubout. Daarna sal S. von Lüttwitz die Charolais/Sussex (omstreeks 15:00) beoordeel. Ook Woensdag, vanaf 08:00, in Ring 2 word die Limousines deur B. Dorfling beoordeel en die Braunviehs om 15:00 deur W. Grobler. In Ring 3 sal die Simmentalers om 08:00 deur M. Seyfferdt en K. Lepen beoordeel word.
Om 08:00 Donderdag word die interras dubbeldoel deur B. Dorfling en S. v. Lüttwitz beoordeel. Die ringgidse is T. Tjaimba en G. Mouton. Daarna kom die interras vleisbees aan die beurt met K. Lepen en R. Rusch as beoordelaars. K. Claassens en A. de Koe is die ringgidse. Die uitsoekkoei sal daarna deur K. Lepen, M. Seyfferdt en B. Dorfling aangewys word.
Die ringgids is M.C. Human. Na afloop daarvan sal K. Lepen en B. Dorfling ook die kampioen van kampioene aanwys. Die beoordeling van genomineerde touleiers vind om 14:00 Donderdag plaas en sal deur M. Seyfferdt, dr. Lubout en Z. Lepen aangewys word.
Die beesparade waar al die prysen trofeewenners aangewys sal word, vind Donderdag om 16:30 plaas. Die voorstelling van die karakoele sal deur T. le Roux gedoen word, die kleinvee deur N. Kruger en grootvee deur S. von Lüttwitz. Vrydag om 10:00 vind die Agragrootveeveiling in die Agra/Bank Windhoek-ring plaas. ’n Veilingsparade sal reeds om 08:00 gehou word.
|