16.09.2011 Otji-skou as suksesvol beskryf
 Die afgelope naweek het sowat 15 000 mense deur Otjiwarongo landbou- en handelskou se 86 stalletjies beweeg.
SOWAT 15 000 mense het sedert Donderdag deur die hekke van die Otjiwarongoskougronde beweeg en die landbou- en handelskou van die afgelope naweek is deur die organiseerders as ’n reusesukses beskryf.
Die munisipaliteit en die hoofborge van die skou, naamlik Telecom Namibia, Standard Bank Namibia, Agribank, Coca- Cola en Meatco het vanjaar weer uitstekende geleenthede aan klein en medium grootte sakelui gebied en ook die dorp met goeie vermaak bederf.
Verlede jaar het net 54 uitstallers stalletjies by die skou gehad. Vanjaar kon skougangers 86 verskillende stalletjies besoek waar enigiets van speelgoed tot meubels te koop aangebied is.
Heelwat mense het die skou vanjaar bygewoon ten spyte van die feit dat die Okakarara Skou terselfdertyd plaasgevind het. Volgens die skakelbeampte van die Otjiwarongo munisipaliteit, me. Hilaria Ndadi, het die botsing in datums plaasgevind omdat Okakarara nie deur die nasionale skou koördineringsraad verteenwoordig word nie.
Mnr. Steve van Wyk van Russtev Brahmane is as algehele wenner in die grootvee-kategorie aangewys. Mnr. Jonathan Haufika het die beste boerbokram en -ooi na die kompetisie gebring en mnre. Puje Uazeua se Dorperram en Frans Kandundu se Dorperooi is as die beste teelskape aangewys.
Die skou het amptelik afgeskop met ’n vertoning deur Gal Level en Ludik en teen Vrydagoggend het die Paresis Parkskougronde gewemel van mense. Kinders het hulself terdeë geniet op die springkastele en pretpark.
Die plaaslike kunstenaars Ndilimani, MC Webster, Jericho en The Dogg het ook vir vermaak op die musiekfront gesorg.
Nog gewilde trekpleisters was die Namibiese weermag (NDF) se uitstalling van oorlogmasjinerie en die Skaars en Bedreigde Spesiestrust (REST) se vertoning van slange, krokodille en die bedreigde kransaasvoël.
“Die Otjiwarongo Skou was altyd ’n geleentheid waarna al die inwoners van die dorp uitgesien het en om die skou te kon reël, het al die belanghebbendes dieselfde uitdaging in die gesig gestaar – volhoubaarheid.
“Dit is egter nie altyd maklik om dit te bereik en te handhaaf nie, want die geboue moet in stand gehou word en daar moet aan die behoeftes van alle skougangers voldoen word,” het mnr. Manfred /Uxamb die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit op Otjiwarongo, gesê.
|