15.10.2009 Okahandja Somerfees
Robert Jearey, voorsitter van die CCIO en Okahandja Feeskomitee, skryf:
VIR die vorige vier jaar het hierdie fees as die Okahandja Mini Skou bekend gestaan.
Dit was al die jare gereël deur die Gereformeerde Gemeente van Okahandja met een doel voor oë, naamlik om hierdie ’n gemeenskapsprojek te maak.
Vanjaar het die sakekamer van Okahandja besluit om die projek oor te vat om ’n neutrale grond te skep vir hierdie een-keer-’n-jaar geleentheid om as besighede asook die gemeenskap bymekaar te kom.
’n Feeskomitee is genomineer uit verskillende instansies en so is die feeskomitee gestig.
Die woord “Skou” het nie meer die regte identiteit van die projek beskryf nie, daarom is besluit om die naam na Okahandja Somerfees te verander. Fees omdat die gemeenskap gevier word.
Die Sakekamer wil een groot doel na vore bring, naamlik om ons gemeenskap, besighede en dorp te bevorder en te bemark vir die res van Namibië, en daarom is ons betrokke by hierdie projek.
Deure is oop vir alle organisasies sowel as instansies om deel te wees van die fees.
Die groen toer is ingebring om wanpersepsies rondom Okahandja Tuindorp “Garden Town’’ reg te stel. Ons wil graag die waarde van Okahandja as tuindorp van die land herstel. Almal is onder die indruk dat daar ’n klomp tuine in die dorp moet wees as hulle ons dorp besoek (ja, tuine moet ook daar wees), maar die naam tuindorp het ontstaan van al die groente- en blomplotte al langs die Swakoprivier. Okahandja was die blomme en groente “hub” van Namibië. Later is Von Bachdam egter gebou en die projekte het platgeval en Waterwese het al die ondergrondse regte onder die plotboere uitgekoop.
Intussen het die ondergrondse water sterk genoeg geraak om weer te begin. Ons sal graag wil spog met al Okahandja se “horticultural hub”. Sou jy op die groen toer spring, sal jy kan uitgaan en Okahandja se naam tuindorp kan verdedig, want dan het jy eerstehandse ondervinding.
Ons bied ook vir al die sportklubs in Okahandja hierdie geleentheid om hulself te adverteer sodat almal kan sien waarmee hulle besig is en op die manier meer lede werf vir hul sport.
Die Sakekamer wil meer konsentreer om Okahandja as dorp te bemark. Die besluit is om die fees ’n jaarlikse instelling te maak. Ons wil sodoende besighede meer motiveer om deel te word van die sakegemeenskap en om as ’n lid by die Sakekamer aan te sluit.
Ek wens almal wat betrokke is by die fees sterkte toe met hul reëlings. Mag dit ’n groot sukses wees en net die begin van nog groot dinge wat gaan kom vir Okahandja. Ek bedank al die betrokke komiteelede en subkomitees vir al hul tyd, reëlings en beplanning.
|