19.10.2009 Okahandja pronk in somerglorie
OKAHANDJA het die afgelope naweek ’n Somerfees gehou en die honderde mense wat die fees bygewoon het, is dit eens dat dié benaming gepas was vir die eg-Namibiese temperature wat ervaar is.
Die fees het Vrydagmiddag om twaalfuur by die Reitklub afgeskop en tot nege-uur die aand geduur. Saterdagoggend om halfnege was die hekke weer oop en tot laataand is op die tuindorp feesgevier.
Feesgangers het behoorlik gesmul aan heerlike soetpannekoeke, roomyspannekoeke, koeke, sosaties, ribbetjies, steak, skyfies, braaiaartappels en allerhande ander lekkernye.
Vermaak was volop vir die jongspan met springkastele en glybane om die warm son te trotseer en van vroeg tot laat is in die water baljaar. Jonk en oud het ritte op die perde, kamele en die perdekar geniet en kinders het ouers omgepraat om vir ’n tweede of derde rit ook te gaan.
Die nasionale saalperdskou is ook gehou en die karretjieklas, driegang en vyfgang, het baie toeskouers gelok. ’n Algemene perdevertoning is ook gehou, asook ’n Friesperdvertoning. Kinders onder tien jaar het ook gewys wat hulle op ’n perd se rug kan doen.
Die Groentoer wat die Saterdagmiddag gehou is, het ’n besoek aan onder meer ’n olyfplaas en ’n organiese plaas ingesluit.
Ander vermaak op die fees was algemene stalletjies soos speelgoed, houtwerk, asook juwele en rugbytruie en -pette.
Die Somerfees beloof om ’n jaarlikse instelling te word.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
|