
Erich Goeieman
DIE opbou van krag gaan die volgende ontwikkelingsfase van Erich Goeieman wees nadat die seningtaaie atleet Saterdag die Rössingmarathon met Swakopmund as basis gewen het. Saterdag het hy die 42,2 km in 2 uur 21 minute 19 sekondes afgedraf. Sy eerste mikpunt is om die stophorlosie tot onder 2:20:00 af te dwing.
Vir Goeieman was die oorwinning ’n driekuns nadat hy die Rössing-marathon ook in 2009 (2:26:14) en in 2008 (2:25:57) gewen het.
Al het die 29-jarige Erich in die drie jaar sowat 5 minute aan sy eie wentyd afgekap, lê hy nog ver van die legendariese Luketz Swartbooi se rekordtyd van 2:11:23 in 1991. Hy glo self hy kan nog baie beter.
Juis Saterdag het hy eers sowat 10 km van die eindpunt op sy spoed begin konsentreer toe sy armhorlosie aan hom gewys het hy moet aanstoot. Goeieman, wat as wenner N$10 000 ryker is, was vol lof vir die deskundige bystand wat hy nou danksy een van die Namib se groot mynmaatskappye in sy oefenprogram kry.
Vir ervaring gaan hy vanjaar weer aan die Twee Oseane-wedloop in Kaapstad deelneem, maar dan net as atleet in die halfmarathon. Hy het ook onderneem dat hy beslis in die eerste naweek van September aan The Rock, Areva se halfmarathon om die Spitzkoppe, gaan deelneem. In die stadium het hy geen beserings wat pla nie.
“My tye moet net beter,” het Goeieman gesê. “Ek gaan my eie vermoëns toets deur teen sterk marathondrawwers mee te ding.”
Tweede in die Rössing-marathon was Martin Ntinda (2:29:12) van die klub Golden Cheetahs. Derde was Oscar Komeya (2:38:23) van die NDF. Die vroue ope is deur Beata Naigambo (2:56:13) gewen.
Soos vir Erich Goeieman het dit haar beursie met N$10 000 laat bult. Dit was die grootste snit uit die prysgeld van N$60 000. Anna Akukothela (2:56:14) was tweede en Anna Amuoko (3:05:30) derde.
Beata het gesê die sege in die Rössing maak haar baie trots. “Die Rössing-byeenkoms vorm deel van my voorbereiding vir wat nog vanjaar gaan volg.”
’n Wedloop oor 10 km was weer baie gewild as deel van die Rössingmarathonbyeenkoms. Vanjaar het dit 120 inskrywings gelok. Die wenner was Mynharde Kavanni (30:52) van Welwitschia 77.
Op sy hakke was Reinhold Iita (31:01) van die NDF met Robert Kaxuxuena (31:27), ook van die NDF, derde. In die afdeling vir vroue was Hendrina Namindo (38:12) die wenner oor 10 km. Tweede was Julia Shimondi (44:49) en derde Erla Hhjamarsdottir (45:57) derde.
Dan was daar die pretmakers oor ’n afstand van 5 km met die opbrengs vir die Kankervereniging. By die wegspringplek het 135 stappers hulle aangemeld en dit het die Kankervereniging N$1 860 in die sak gebring.
Pryse het onder andere aan die jongste stapper van net drie jaar en die oudste stapper van 80 jaar gegaan.
“Ons gaan die Rössing-marathon nog die grootste in Namibië maak,” het Rössing se bestuurder: buitesake en kommunikasiedienste, mnr. Jerome Mutumba, ná afloop van die sporthoogtepunt langs die kus gesê.