26.09.2008

Koste vir skougangers

TOEGANGSGELD by die Windhoek Skou is vanjaar steeds N$20 vir volwassenes en N$15 vir leerlinge. Senior burgers en kinders wat nog nie skool gaan nie, behou die voorreg om die skou gratis by te woon.

Besoekers wat hul motors op die skouterrein wil parkeer, sal by die Bellstraat-ingang N$10 vir parkering moet betaal. Om die vermaak in die Coca- Cola vermaaklikheidstent by te woon, sal besoekers ’n bykomende N$30 by die ingang moet betaal.

“Maar,” sê mnr. Harald Schmidt, visepresident van die Windhoek Skouvereniging, “daardie N$30 sal beslis die moeite werd wees.” Die hekke open elke dag om 10:00 vir die publiek en gaste het tot 22:00 geleentheid om die skou te geniet.

Die organiseerders doen ’n beroep op die publiek om die skouterrein tydig te verlaat. Vanjaar se pretpark word bestuur deur die Suid-Afrikaanse Keith Williams Family Fun Park, wat ook verlede jaar daarvoor verantwoordelik was.