26.09.2008

Grootvee beloof goeie genetika


Mnr. Kiep Lepen, bestuurder: Agra-stoetveedienste.
BAIE goeie pryse en uitstekende genetiese materiaal kan by vanjaar se skouveiling vir grootvee verwag word. “Ek dink werklik dit kan ’n goeie veiling wees. Ons het in die laaste paar weke groot stoetveeveilings gehad wat uiters suksesvol was.”

Mnr. Kiep Lepen, bestuurder: stoetveedienste van Agra, het gesê dat die pryse vanjaar baie goed is. “Een van die redes daarvoor is dat Meatco se slagpryse vanjaar baie beter as dieselfde tyd verlede jaar is. Net die feit dat Meatco bereid is om beter pryse te betaal, maak boere reeds meer optimisties,” het mnr. Lepen gesê.

Hy sê die feit dat uitstekende genetiese materiaal tydens die veiling beskikbaar sal wees, maak dat dit ook ’n groot trekpleister vir boere is. Die grootveeveiling vir vanjaar vind Vrydag, 3 Oktober om 10:00 in die Agra/Bank Windhoekring plaas.

Die diere wat opgeveil word, is 20 Brahmaanbulle, 2 Brangusbulle, 1 Brangusvers, 3 Braunviehbulle, 1 Charbraybul, 2 Limousinbulle, 5 Simbrabulle, 1 Simbravers en 10 Simmentalerbulle. Verlede jaar het die grootveeskouveiling groot opslae verwek toe ’n Simbrabul vir N$135 000, die hoogste prys nog in Suider- Afrika, opgeveil is.