
Mnr. Noel Silver, winkelbestuurder van Delicious Organix, wys van die produkte wat deur hulle verkoop word.
BESOEK Delicious Organix se stalletjie en ontdek net dalk ‘n gesonder styl van kosmaak met die wye reeks organiese produkte wat die winkel aanhou. Gegeurde olies en asyne, vars organiese kruie, slaaisouse en selfs ‘n diabetiese reeks produkte is onder meer beskikbaar.
Die koesister-reeks is spesiaal vir nageregte en sluit produkte soos tuisgemaakte sjokolade en bessiesouse in. Die winkel wat in Nickelstraat 76, Prosperita, geleë is, bestaan vir bietjie meer as ‘n maand. Oorspronklik is Delicious Organix ‘n fabriekswinkel wat in gevriesde varkvleis, pluimvee, seekos en groente spesialiseer.
Met die oog op die skou word egter meer op die organiese produkte gefokus. Die winkelbestuurder, mnr. Noel Silver, sê sedert met die winkel begin is, het hulle besef dat daar ‘n groot mark vir organiese produkte in Namibië is.
Hulle wil dus meer mense van die onderneming bewus maak en van die verskeidenheid produkte wat Delicious Organix verkoop. ‘n Groot verskeidenheid wyne word ook aangehou en sal tydens die skou by hul stalletjie beskikbaar wees.
Van die wyne sluit in Boschkloof, Fairview, False Bay, Joostenberg, Juno, Chamonix, La Couronne, Vrede en Lust, MAN, Stark, Vondeling en Nietvoorbij. Besoek gerus Delicious Organix in die Cell One-saal waar hulle ook kaasborde teen N$20 sal verkoop.