
Janet-Ann Japhta gaan volgende week terug skool toe. Haar ma, Francis, en kleinboet Adriano help haar om nuwe skooklere uit te soek.
DIE tyd het aangebreek om terug te gaan skool toe. ’n Gevoel van opgewondenheid om weer al jou maats te sien, borrel in jou, maar jy voel ook bietjie hartseer omdat die lekker lang somervakansie nou verby is.
Diegene wat vanjaar vir die eerste keer skool toe of na ’n ander skool toe gaan, is senuweeagtig oor al die nuwe dinge: nuwe onderwysers, nuwe maats en dalk is jou nuwe skool op ’n ander dorp of stad. Gelukkig is al hierdie nuutjies net die eerste rukkie nuut en raak ’n mens dit gou gewoond.
Die eerste dag
Die meeste onderwysers begin die skooljaar deur hulself aan die leerlinge voor te stel en dan te verduidelik wat alles gedurende die jaar gedoen moet word. Sommige onderwysers bied leerlinge die geleentheid om bietjie meer oor hulself aan die klas te vertel en mekaar sodoende te leer ken.
Op die eerste skooldag bespreek onderwysers gewoonlik ook die klasreëls sodat leerlinge weet wat toegelaat word en wat nie. Luister aandagtig hierna sodat jy weet wanneer jy jou hand moet opsteek om ’n vraag te vra of om jouself na die badkamer te mag verskoon.
Dalk ken jy reeds op die eerste dag baie van die kinders in jou klas, maar dit is ook die ideale dag om nuwe maats te maak. Groet die kinders wat jy ken en ook die wat jy nog nie ken nie. Sodra jy begin gesels met iemand wat jy nie ken nie en julle raak vriende, sal jy en jou nuwe vriend bly wees dat jy die eerste stap gedoen het om maats te word.
Voel goed op dag een
Dit is altyd lekker om op die eerste skooldag weer jou maats te sien vir wie jy lanklaas gesien het en dit kan jou eerste dag baie lekker maak. Jy kan ook jouself goed laat voel deur iets saam met jou skooluniform aan te trek waarvan jy baie hou, soos byvoorbeeld die horlosie wat jy vir Kersfees gekry het of pragtige haarbykomstighede.
Dit is ook ’n lekker gevoel om voorbereid skool toe te kom met al die skryfbehoeftes wat jy nodig het. Die meeste skole het reeds voor die vakansie lyste uitgedeel wat uiteensit watter skryfbehoeftes jy vir die nuwe jaar moet hê. Jy kan dus met al jou nuwe boeke, potlode en penne by die skool opdaag.
Probeer om die aand voor jou eerste skooldag klaar jou tas te pak. Dit sal voorkom dat jy die oggend voor skool inderhaas moet pak en dalk jou boeke of kos by die huis vergeet. Die tipe kos wat jy saamvat skool toe, kan jou ook laat goed voel. As jy lief is vir vrugte, pak twee of drie van jou gunstelinge in.
Raak vertroud met die skool
Die eerste skooldag by ’n nuwe skool is ook jou eerste kans om daarmee vertroud te raak. Maak notas van waar al die belangrikste plekke is, byvoorbeeld jou klasse, die kantoor, die skoolsaal, sportgronde en kleedkamers. Hou jou klasrooster byderhand sodat jy weet hoe laat jou klasse begin en wanneer dit pouse is.
Wenke vir die nuwe skooljaar
Kry genoeg slaap. Agt ure per nag word aanbeveel.
Eet ’n gesonde ontbyt.
Probeer jou bes.
Skryf jou huiswerk neer na elke klas en maak seker dat jou huiswerk altyd gedoen is.
As jy iets in die klas nie verstaan nie, vra die onderwyser om jou te help.
Skool is pret, geniet dit net. Jy kan dit vir jouself lekker maak deur altyd ’n goeie sin vir humor te behou, tyd saam met maats te bestee en met jou skoolwerk jou kant te bring.