24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.02.2010

Stokkiesdraai knou uitslae


Die direkteur van Namcol, mnr. Heroldt Murangi.
DIE eksamenuitslae van deeltydse graad 12-kandidate met vakke vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op gewone vlak (NSSCO) het in 2009 effens verswak in vergelyking met 2008. Dieselfde geld deeltydse studente se graad 10-uitslae.

Die direkteur van Namcol, mnr. Heroldt Murangi, het die feit dat leerlinge nie opdaag vir die klasse wat rigting aan hul leerwerk by die huis moet gee nie, as een van die hoofredes vir ’n groeiende druipsyfer onder deeltydse lerlinge uitgesonder.

’n Opname het verlede jaar bewys dat leerlinge wat 50% of meer van hul kontakklasse bywoon, aansienlik beter vaar as dié wat graag stokkies draai. Mnr. Murangi het ’n beroep op alle belanghebbendes gedoen om saam strategieë te ontwikkel wat vanaf 2010 ’n ommeswaai in die afwaartse prestasiekurwe teweeg sal bring.

Die getal ongegradeerde vakinskrywings deur deeltydse NSSCO-kandidate het verlede jaar van 16,8% in 2008 tot 18% toegeneem. In die graad 10-eksamens het dieselfde syfer van 7,6% tot 8,7% geklim. In beide eksamens kon deeltydse kandidate, van wie die meeste afstandonderrig deur Namcol ontvang, minder simbole op die bokant van die prestasieleer (A tot C) behaal. NSSCO-kandidate het meer D’s en E’s gekry, maar minder F- en G-simbole.

Graad 10’e het egter meer van laasgenoemde graderings – die heel laagste op die prestasieleer – verwerf. Volgens mnr. Murangi studeer deeltydse kandidate, ’n groep wat oor die jare stelselmatig aanhou toeneem, dikwels in uiters uitdagende omstandighede. Met die stigting van Namcol 12 jaar gelede was die sleuteldoelwit om te verseker dat meer as 50% van deeltydse graad 10- en graad 12-leerlinge minstens ’n simbool vir hul vakke verwerf.

Gemeet aan die doelwit het beide groepe oor die jare heen aanhoudend beter gevaar. In 1997 byvoorbeeld was 40,6% van alle graad 10-vakinskrywings ongegradeerd – angswekkend meer as verlede jaar se 8,7%. Oor sowat ’n dekade was daar volgens mnr. Murangi dus ’n merkwaardige verbetering in uitslae. “…Dit is ’n aanduiding van Namcol se sukses,” het hy aangevoer.

Die Commonwealth of Learning en ander internasionale agentskappe soos Unesco beskou Namcol, wat volgens mnr. Murangi ’n noodsaaklike nisdiens verskaf, as ’n rolmodel in die voorsiening van onderwys op sekondêre skoolvlak. “As Namibiërs moet ons baie trots wees!” het hy beklemtoon. Volgens mnr. Murangi verg dit emmers sweet om beter te vaar, maar selfs harder werk om nie terug te val nie.

“Namcol het ’n stadium bereik waar die instelling ’n strategie moet ontwerp om te verseker dat hy sy status handhaaf,” het hy gesê. Mnr. Murangi het benadruk dat bykomende bronne noodsaaklik is om beter prestasies te kweek. Terselfdertyd sal hardnekkige, negatiewe beskouings oor afstandonderrig en die vermoëns van Namcol beter bestry moet word. Die kollege het die volgende planne vir implementering in 2010 goedgekeur:

• Verbeterde verspreiding van lesmateriaal en die samestelling van vraestelbundels met modelantwoorde vir Engels (tweede taal) en rekeningkunde op graad 12-vlak.

• Die ontplooiing van programontwikkelaars na die streke om inligting met onderwysers en leerlinge te ruil en die 2009-uitslae met almal te bespreek.

• Beter interne ouditering.

• Die hersiening van aansporingsmaatreëls vir Namcol se beste leersentra, kollegehoofde, onderwysers en leerlinge.

• Die betrek van jeugleiers en studenteliggame om motiverende toesprake aan leerlinge te lewer. Namcol se teiken is om in 2010 die persentasie ongegradeerde vakantwoorde in graad 10 en 12 tot onderskeidelik 8% en 15% te verminder.

“Dit is ’n uitdaging, maar deur harde werk en toewyding van alle belanghebbendes kan ons dit verwesenlik,” het mnr. Murangi gesê. Namcol se 2010-inname sluit op 1 Maart.