
Die skoolhoof van Seunskool Pionier, mnr. Orgill van Wyk, voor die ingang van die skool in Dorado Park.
IN ’n poging om planne vir sy ontwikkeling te laat slaag, doen die Seunskool Pionier in Windhoek ’n beroep op die gemeenskap en nie-regeringsorganisasies om die skool deur middel van bydraes by te staan om sy doel te bereik.
Die gebrek aan ’n leerplan vir leerlinge met spesiale behoeftes by spesiale skole in Namibië, het daartoe gelei dat die skool en sy ouergemeenskap genoodsaak is om die nodige bystand te soek om die leerlinge die opvoeding te bied vir ’n beter toekoms waarop hulle geregtig is.
Die teiken is om binne drie jaar ten minste N$100 000 in te samel deur middel van ’n projek wat as Pionier Seuns Tulike bekend sal staan. Die geldinsamelingsprojek sal deur die beskermheer van die skool gelei word wat saam met raadslede, die bestuur, personeel en lede van die gemeenskap sal werk. Seunskool Pionier is in Uitbreiding Een in Dorado Park, Windhoek, geleë en akkommodeer leerlinge met studieprobleme.
Die skool is in die vroeg 1950’s gebou nadat opvoedkundiges die nodigheid vir ’n spesiale skool vir sodanige kinders ingesien het. Op 25 Januarie 1953 is die droom van ’n spesiale skool verwesenlik en het die skool met 23 leerlinge begin met dr. J H Oosthuizen as sy eerste hoof.
Tans akkommodeer die skool meer as 500 leerlinge met spesiale behoeftes. Die vernaamste doel van die skool was om leerlinge met studieprobleme te onderrig aangesien dié leerlinge as gevolg van studie-uitdagings nie met die normale skoolleerplanne kon byhou nie.
Dié kultuur duur vandag voort waar ’n leerling op die aanbeveling van ’n sielkundige na aanleiding van die kind se vermoëns, by die skool in verskillende klasse toegelaat word. Die destydse onderrigspan het toe geskikte studiestrategieë geformuleer om die leerlinge by te staan.
Vandag bestaan onderrig uit drie fases, naamlik ’n tegniese fase waarna as vlak een-studente verwys word, die hoofstroomfase, te wete graad 8 tot graad 10 en die spesiale graad-fase oftewel ’n oorbruggingsfase wat tot ’n spesiale graad 10 lei.
Die leerlinge wat hul vlak een-onderrig suksesvol voltooi, onderneem gewoonlik verdere studies in tegniese skole in Suid- Afrika, aangesien dit vir hulle moeilik is om plek by tegniese kolleges in Namibië te kry. Seunskool Pionier het verlede jaar met oorbruggingsklasse begin om bystand aan leerlinge van 13 jaar of ouer te verleen wat nie kan lees en skryf nie.
Leeskursusse word aangebied terwyl individuele aandag ’n groot rol in hul leerproses speel. In die klasse word Engels, Afrikaans, wiskunde, rekenaarstudie, kuns en mediavaardighede aangebied.
Pogings word ook aangewend om wetenskap en sosiale studies te integreer om leerlinge sodoende in die hoofstroom van onderrig te plaas. Volgens die skoolhoof, mnr. Orgill van Wyk, het hulle verlede jaar groot sukses behaal toe een leerling wat glad nie kon lees nie, daardie vaardigheid geleer is. Hy het so goed presteer dat hy vanjaar in graad 7 geplaas is.
Een leerling wat homself nie kon uitdruk nie, praat nou baie gemaklik en hy het baie selfvertroue.
“Met baie toerusting tot ons beskikking, glo ons dat Seunskool Pionier vanjaar baie suksesse kan behaal.”
Onder die lys van items wat nou nodig is, is gespesialiseerde oudiovisuele onderwystoerusting, gereedskap vir ’n werkswinkel, toerusting wat 20 rekenaars insluit, skenkings vir die personeel se ontwikkelingsfonds, algemene veiligheid wat die opknapping van die omheining insluit, skenkings vir die biblioteek, die opknapping van die koshuis waarin 176 leerlinge bly, verf, matrasse en gordyne.
Om die kursusse oor messelaar- en pleisterwerk aan te bied, word 20 waterpasse benodig, 20 reihoute, vyf beton kruiwaens, 30 G-klemhake en 10 bou-emmers. Die houtwerkklasse het 15 rubberhamers nodig, stelle skroewedraaiers, 10 skawe terwyl vir metaalwerk volledige stelle gereedskap benodig word.
Vir die loodgieters- asook motorwerktuigkunde- kursus word eweneens volledige stelle gereedskap benodig. Bostaande items is bloot enkele voorbeelde van hul behoeftes.
Verdere toerusting wat vir die spesiale opvoeding benodig word, is ’n televisiestel en DVD- of videomasjien, leesprogramme wat ongeveer N$6 000 kos, muurkaarte, kuns- en ambagsmateriaal wat onder meer verf en kwaste insluit, legkaarte, boublokke, opvoedkundige speelgoed en leesboeke.
Verder word in die soeke na vennote wat bystand kan verleen, ’n beroep op oudleerlinge van die skool gedoen.
’n Reünie word op 9 April vanjaar gehou waar skenkings en beloftes van skenkings gemaak kan word. Oudleerlinge kan voor 26 Februarie met mnr. Reynecke op selfoonnommer 081 128 0729 vir meer inligting in verbinding tree.